Lynette's Blog

Post

Jou brein kan nie God én Mammon dien nie

Apr 15, 2026

Wat sal jy doen as jou finansies groei en groei en só floreer dat jy ’n bedrag gelykstaande aan $100 000 000 in jou bankrekening het? Let wel: Amerikaanse dollars en een honderd miljoen van hulle ...

Wat is op jou inkopielysie as jy letterlik enigiets kan koop? Wat is op jou doenlysie as jou geld so baie is dat dit bykans onuitputlik sou wees? Sluit jou visioene ook in hoeveel hulp jy sou kon verleen en hoe baie weldade jy vir ander mense sou kon verrig?

Is daar in jou welvaartsdrome ook voorbeelde van die gemeenskapsdiens wat jy en jou sakke vol geld sou ondersteun? Staan daar naas jou eie goedvoel-dinge op jou lysies ook hoe jy die goeie stryd van die geloof (vgl. 1 Timoteus 6:12) vanuit jou geseënde posisie sal stry?

As jy “ja” antwoord, jammer, navorsers sê jy gaan die teenoorgestelde doen

Al is ons rykmansbedoelings hóé goed, neurowetenskaplikes en sielkundiges sê jy gaan skadelike begeertes hê. En hierdie skadelike begeertes gaan die mense rondom jou na ondergang en vernietiging meesleur (vgl. 1 Timoteus 6:9).

Die deskundiges sê as jy baie geld het, gaan jy dit vir jouself hou en uitsluitlik daarop fokus om nóg meer te bekom. Jy gaan glo as dit sleg met mense gaan, is dit hulle eie skuld.

Jou sienings gaan wees dat daar fout is met hulle en dis hulle probleem en beslis nie jou verantwoordelikheid nie. Jy gaan glo dis ’n vorm van geregtigheid dat jy soveel welvaart bymekaargemaak het, dat jy dit vanuit jou eie verdienstelikheid waarlik verdien.

Dit gaan jou oortuiging wees dat jy in die hiërargie van die wêreld ’n welverdiende hoër posisie beklee. Jy gaan onomwonde verkondig dat jy ’n beter mens is as die sukkelaars wat weens hul ingebore feilbaarheid daar onder bly ploeter.

Jy gaan orals waar mense jou advies vra, verduidelik hoe hard jy gewerk het en hoe baie jy opgeoffer het. Jy gaan geen rekening hou met die voorregte waarbinne jy gewerk het nie. Jy gaan niks vertel of onthou van die seën wat jy gratis en verniet gekry het nie, of die mense wat jou gehelp het of kanse gegee het nie.

Die denkpatrone van Mammon wat ’n gemeenskap deurboor

As jou drif na geld en mag bevredig word, gaan jy met ’n geruste gemoed die sisteme waarbinne jy so min as moontlik belasting betaal, benut en bevorder. Jy gaan ’n voorstander daarvan wees dat ander mense vir hulle werk uitgebuit word.

Jy gaan sê dis goed vir die ekonomie dat jy in een uur méér rente verdien as wat die meeste mense as vergoeding kry nadat hulle meer as 160 ure in ’n maand gewerk het. Jy gaan van harte glo dat medemenslikheid, reëls, regulasies, norme en wette nie op jou van toepassing is nie.

As jy jou wel iewers sou vasloop, gaan jy jou gewoon loskoop. Jy kan en gaan letterlik enigiemand en enige instansie “koop”, omdat jy glo dís wat geregtigheid is omdat jy onaantasbaar is.

Die ervaring gaan jou leer dat die meeste mense, stelsels en sisteme so wie so hierby inval. Hoe meer dit gaan gebeur, hoe meer gaan dit die “normale, aanvaarbare” werklikheid vir jou en vir die samelewing rondom jou word.

Terwyl geld in jou bankrekeninge inrol, gaan jy jou oë meewarig rol vir enigiemand wat preek of skryf oor hoe gelowige mense met hul geld moet werk. Jy gaan die Here dank dat jy ’n beter Christen is as die minder gegoedes wie se teenspoed ’n bewys van die straf op hul sondigheid is.

Kortom, jy gaan die toonbeeld wees van wat in 1 Timoteus 6:10 (2020-vertaling) geskryf staan:

“Want geldgierigheid is die wortel van alle kwaad.

Die hunkering na rykdom het sommige mense

laat afdwaal van die geloof,

en hulle het hulleself met baie smarte deurboor.”

Hierdie waarnemings oor hoe geldgierigheid ’n individu en ’n hele samelewing siek maak, is nie op suur druiwe, naywer of hoogheiligheid gebaseer nie. Dit word deur koue, kliniese navorsing beaam.

Die koue, kliniese feite oor hoe die brein werk

Buitengewoon groot welvaart loop saam met buitengewoon baie mag en dit verander die brein. Studies deur Dr. Sukhvinder Obhi, Direkteur van die  “Social Brain, Body & Action Lab” wat deel is van die Departement Sielkunde, Neurowetenskap & Gedrag van die McMaster Universiteit bevestig dit.

As jy die belewenis het dat jy mag oor iemand het, skakel die dele in die brein wat spieëlneurone (“mirror neurons”) afskei, af. Hierdie neurone is spesiale senuweeselle wat aktief raak as ’n persoon iets doen én as die persoon sien hie iemand anders dieselfde aksie uitvoer.

Dit funksioneer as ’n interne “spieël” wat die gedrag van ander mense in jou kop simuleer. Dit help jou brein om gedrag, emosies en intensies te analiseer en interpreteer.

As jy byvoorbeeld sien dat jou vriendin glimlag, skop jou spieëlneurone in. In jou brein word haar glimlag nageboots, al glimlag jy nie self met jou gesigspiere nie. Dit stel jou in staat om die emosie agter die glimlag wat nie jou eie een is nie, te beleef.

Hierdie vermoë van die brein om gedrag te simuleer, is noodsaaklik vir empatie, sosiale konneksie en leer deur nabootsing (modellering). Dit speel ’n rol in hoe ons taal aanleer en in ’n mens se emosionele ontwikkelings.

Dit help jou om die optrede en gevoelens van ander mense te verstaan, sonder dat jy daaroor hoef te gaan nadink. Innerlike refleksie is natuurlik altyd ’n bonus, maar kan jy dink hoeveel tyd ons spaar met die genadegawe van hierdie neurone in die brein soos God dit geskep het?

Dis ’n ingebore breinstruktuur wat geoefen moet word en een van die invloedrykste faktore wat sorg dat dit met gemeenskappe goed gaan. Hierdie neurone is betrokke by die “emosionele aansteeklikheid” tussen mense, waar 'n mens kalmte of enige  uitdrukking van die vrug van die Gees van iemand anders sien en oorneem.

Die koue, kliniese feite oor wat mag en welvaart aan die brein doen

’n Persoon met hoë aansien en geld soos bossies, kan letterlik met verloop van tyd nie meer empaties wees nie, omdat hulle breinstruktuur meetbaar verander het. Dit beteken dat hulle ander mense se emosies nie kan “lees” nie en mense nie meer as menswaardig sien nie. 

Mense wat deur ons as “super suksesvol” benoem word, tree daarom as brein-beskadigde mense op skadelike maniere op. Hulle kan slegs op hulself en hul eiebelang fokus en ag die belange van die groter gemeenskap as weglaatbaar onbenullig.

’n Voorbeeld hiervan is dat bestuurders van luukse motors opmerklik meer geneig is om voetgangers en “gewone” voertuie by verkeerskruisings te ignoreer en voor hulle in te ry. Of dat skatryk grootmense dubbel soveel lekkers uit ’n glasbottel gemerk “Gratis vir Kinders” haal as minder gegoede grootmense.

Hoe meer welvarend jy is, hoe selfsugtiger en gieriger word jy. Dis nie sommer net kleinsielige waarnemings, vroom praatjies of ’n sensasionele doemprofesie nie. Dis die bevindings van ordentlike, herhaalbare navorsing deur Prof. Paul Piff van UC Berkeley.

Hoe ryker jy word, hoe minder is jou brein in staat om gesonde konneksies met mense te bou. En dan verander jy jou ingesteldheid, jou geloof en jou waardes. Jy leef in isolasie, op ’n spreekwoordelike eiland waar jy tred met alles wat moreel is, verloor.

Hoe keer ’n mens dat Mammon jou brein beskadig?

Die teenmiddel vir toksiese geldgierigheid is om jou welvaart aan die welsyn van die breë gemeenskap te meet. Om gehoor te gee aan die oproep in 1 Timoteus 6:11 (2020-vertaling), ongeag jou geslag:

“Maar jy, o man van God,

vlug weg van hierdie dinge!

Streef eerder na geregtigheid,

godvresendheid, betroubaarheid,

liefde, volharding, sagmoedigheid.”

Meet jou sukses aan hoe baie jy in die vrug van die Gees groei (vgl. Galasiërs 5:22-23, 2020-vertaling). Hoe oorvloediger jou liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing is, hoe meer word God vir die wêreld sigbaar.

Dit hou jou senuweestelsel kalm en dan kan jou brein optimaal kreatief, probleem-oplossend en empaties funksioneer. Jou geestelike gesondheid kan staande bly en jy kan dapper wees te midde van neerdrukkende en angswekkende omstandighede.

Met ’n ryk oes aan die vrug van die Gees bly jou verhoudings gesond en sterk, omdat jy met emosionele intelligensie en wysheid uit die Woord leef. Dit maak jou vry. Dit maak maak jou skatryk en die ontvanger van ’n oorwinnaarskroon van ewige vrede en vreugde.

Dan kan jy as rentmeester van die aardse geld wat die Here jou gee, op groter of kleiner finansiële skaal inderdaad bydra dat ’n stukkie van die hemel vir alle mense op aarde waar word. 

Bron: Video op YouTube deur Barry’s Economics, Epstein Isn’t an Aberration. He’s an Inevitable Outcome - Barry's Economics

BECOME A PREMIUM MEMBER 

Our premium membership includes all of Lynette's latest content. 

Let's do it!