Kyk saam met Lynette terug na Desember 2025
Jan 21, 2026
Slaan jou oë op na Bó
Beste
Het jy al wanneer jy bestek opneem van jou werk, gedink “Sjoe, die tyd vlieg”? Het jy al terwyl jy besig is om vir ’n nuwe jaar te beplan, gevoel “Sjoe, dis so oorweldigend”?
Met die vinnig veranderende omgewings waarin ons almal woon en woeker is dit nie ongewone of vreemde gedagtes en gevoelens nie. Selfs die dapperste en mees suksesvolle kinders van die Here voel soms oorweldig. En wat maak ’n mens dan?
Jy kom tot stilstand en praat met mense wat omgee
In die bosveld van die Groot-Marico, duskant Swartruggens, is ’n gasteplaas vir jagters én mense wat nuwe planne vir hul werk wil vasmaak. Dit heet Ukuthanda Game Lodge en dié naam beteken “om lief te hê”.
Ek en sewe bestuurslede het hier ons jaar afgesluit voordat ons ’n welverdiende vakansietyd ingaan. Ons gasvrou, Santie Janse van Rensburg, het ons met milddadige gasvryheid ontvang en soos baie belangrike mense laat voel.
Daar was beskuitblikke waarvan ons die bodem nooit bereik het nie, souttert met biltong, roosters vol wildsvleis om saans te braai, vetkoeke en tuisgebakte brood. Vir die herbivore was daar groentedisse en slaaie wat so lekker is, jy kan nie glo daar is vitamiene en vesel in nie.
En omdat ’n mens van drie etes alleen nie kan leef nie was daar tussendeur gemmerkoekies, soetkoekies, koeksisters en melktert ... Te veel om op te noem!
Met die innerlike wat goed gevoed is, het ons ook die uitgestrekte landskap en sielsalige stilte gebruik om onsself geestelik te verfris. Die swembad, keurige huisies en veral die lapa het gesorg vir genoeg pret, kuier én rus.
Maar veral het ons gewerk. Ons het verslae en finansiële state deurgewerk, bestek opgeneem van die “good, the bad and the ugly”. Want 2025 was ’n jaar gevul met hoogtepunte, groei en suksesse. Dit was ook ’n komplekse en vermoeiende jaar.
Jy as een van my lede is hiervan bewus as jy my aanlyn platform verken het. Honderde video’s, blogs, plaaslike en internasionale optredes, boeke, potgooie, Oppi-Bank gesprekke en al die verskillende afdelings is maar ’n paar van die wavrag dinge wat jy hier raakloop.
Dankie vir jou ondersteuning en meelewing. Dankie dat jy vasbyt te midde van die digitale uitdagings van my nuwe platform. Ek waardeer elkeen wat in die afgelope jaar saam met my aangehou het om te glo in die vreugde van ’n volkleurlewe.
(Terloops, het jy al na my lied deur Rhona van Niekerk geluister? Die melodie en woorde is so kosbaar! Hier is die skakel: https://www.youtube.com/watch?v=jTgYr4S_wmM)
Hoe bly ’n mens gefokus op die helder kleure te midde van duisternis?
Laat ons eerlik met mekaar wees: 2025 was vir baie mense en ook vir Lynette Beer Media propvol komplekse uitdagings en verrassende veranderings. (Ek is mos Geel/Rooi, daarom noem ek dit “verrassende veranderings” en nie “ontwrigtings” nie.)
Die Here het my met ’n groot droom geseën en so baie van die doelwitte is reeds bereik. Maar dit gaan gepaard met harde werk, opoffering en ’n voortdurende staatmaak op die wysheid (emosionele intelligensie) wat die Here vir Sy kinders skenk.
Jy ken dit in jou eie werk en gesin ook: ’n Mens is so dankbaar vir alles wat goed afgeloop het. Jy tel jou suksesse een vir een as seëninge uit die hand van die Here.
Maar dan trek jou keel terselfdertyd bietjie toe oor die dinge wat skeefgeloop het. Jy staal jouself vir alles wat reggemaak moet word en al die nuwe uitdagings om verder te groei.
Dis dan dat ek van koning Josafat onthou. Hy was die vierde koning van Juda. Hy sou ook as hy ’n gasteplaas gehad het, dit “Ukuthanda” kon noem, want hy het die Here liefgehad en sy mense het van hom as hulle koning gehou.
Perfek was hy natuurlik nie, maar oor die algemeen het hy gedoen wat reg was in die oë van God. Hy het hervormings aangebring om die afgodediens te verminder. Hy het selfs mense aangestel om deur die land te reis en godsdienstige onderrig te gee.
En tog, toe daar ’n groot menigte van Juda se vyande naderkom en koning Josafat hieroor verslae aangehoor het, het hy benoud en angstig geword. Die statistieke het nie sin gemaak nie: Daar was so baie vyandige troepe en so min soldate van Juda.
Toe bring hy die hele land tot stilstand. Hy laat almal in gebed tot die Here nader. Josafat het self ook voorgegaan en gebid en jy kan die aangrypende woorde in 2 Kronieke 20 lees.
“Ons self weet nie wat om te doen nie, maar op U is ons oë gerig”
Hierdie bede staan só in die 2020-vertaling van 2 Kronieke 20:12. Miskien verwonder dit jou dat ’n kind van die Here so kan praat.
Ons het mos altyd hoop! Ons het mos altyd geloof, kennis en ’n vaste vertroue. Hoe kan ons dan sê ons weet nie wat om te doen nie?
Jy is reg: As Josafat sê hulle weet nie wat om te doen nie, is dit nie ’n passiewe, moedelose uitroep nie. Dis nie ’n ons-dwaal-radeloos-in-die-donker-klagte nie. Dis ’n ons-soek-na-die-lig-belydenis van hulle afhanklikheid van die Here.
Dis vir die mense wat dit hoor ’n riem onder die hart dat hulle nie alles hoef te weet of te doen nie. Hulle moet beheer oorgee aan die Here. Nie ingee onder die oorweldigende uitdagings nie, maar oorgee aan die almagtige God, want sommige gevegte is Syne.
Die profeet Jagasiël het toe die vreemde, ongewone, buitengewone strategie van God met hulle gedeel. Sangers het voor die soldate uitgegaan en lofliedere gesing. Met ’n wonderwerk het dit gebeur dat die verskillende vyande mekaar begin uitdelg het.
Josafat en sy manskappe het net die lyke, ’n groot hoeveelheid toerusting en wavragte waardevolle items gevind. Met oorlogsbuit en nie een enkele verwonding of sterfgeval nie, het die mense van Juda feesgevier en die Here geloof.
Tydens Josafat se regering was daar rus en vrede in die land. Die ander nasies rondom hulle kon nie sin maak uit die wonderwerk nie. Uit vrees het hulle eerder nie kom moeilikheid soek nie.
Daar was ekonomiese groei en voorspoed vir die mense van Juda, omdat hulle na Bó vir oplossings gekyk het. Hulle was bereid om ongewone kanse te waag en hulle het afhanklik van God gebly.
Is dit ’n goeie besluit of is dit ’n besluit wat vir God goed is?
Terwyl ons bosberaad gehou het, het ons elke besluit aan hierdie beginsel gemeet. Soms is ons besigheidsplanne volgens die ekonomie, rekenkundige beginsels en die kennis van gedragswetenskappe goeie besluite. Dan moet ’n mens nogtans vra: Is dit ’n besluit wat die goedkeuring van God dra?
As syfers jou hart in jou keel laat spring, of as mense met hulle verskillende temperamente koppe stamp: Daar is altyd ’n uit-die-boks-uit-strategie of ’n dapper grens wat getrek kan word.
Daarom is ek en my bestuurspan ná ons beplanningsessie gereed vir 2026. Lynette Beer Media en alles wat ons in die verskillende besighede doen, behoort aan God. Ons oë is op Hom gerig.
Ons dank Hom vir ons suksesse en die groot groei. Ons dank hom vir elke persoon, ouer, onderwyser, kind, tiener, huwelik, gesin, werknemer en werkgewer wie se lewe verander is deur Seeds of Inspiration, EQ4Kids, Leer in KLEUR, Seedlings en al die ander projekte.
Ons dank hom vir nuwe boeke en ons titels wat julle so goed ondersteun. Ek is een van die top 5 boekverkopers in die land! Prys die Here!
Ons dank Hom vir die aanlyn platform en ons getroue lede. Ons dank hom vir elke spanlid, kollega, konsessie-houer en medewerker wat in ons visie ingekoop het om mense se verhoudings gesond te maak en te hou.
Ons loof die Here as ’n eenheid van verskillende mense met soveel unieke temperamente. Ons erken die uitdagings voor ons, maar ons glo en vertrou dat ons die talente, kreatiwiteit en gawes het om hulle nie net aan te durf nie, maar ook in Sy hand te plaas.
Soos koning Josafat en sy mense hoef ons nie te veg nie. Ons moet Hom loof, sterk staan, stewig posisie inneem en vanaf die platform van Lig werk. Ons is gereed, gehoorsaam en gewillig om te wag vir die Here se hemelse tydsberekening en metodes.
Dit maak ons kalm en gefokus. Dit maak ons opgewonde oor die onverwagse seën waarvan ek julle in 2026 se nuusbriewe gaan vertel. Dit maak ons spring-bly!
Mag die Here jou seën met ’n verskuiwing in jou fokus. Mag jy die vrede en rus beleef as jy jou oë na Hom opslaan en jy nie meer net op jouself en ander mense staatmaak nie. Mag jy in 2026 vir my kom vertel van al die volkleur-wonderwerke in jou lewe.
Groete met groot waardering vir jou.
BECOME A PREMIUM MEMBER
Our premium membership includes all of Lynette's latest content.