Lynette's Blog

Post

Dankie vir die vals note in my lewenslied

May 06, 2026

Geel mense hou van ritmiese, kan-nie-jou-voete-stilhou-nie-musiek. Een genre wat ek self nie so goed ken nie, maar wat baie gewild op ons planeet is, is jazz.

Een van die grootste jazz-musikante ter wêreld is Miles Davis. Hy word selfs as die “argitek” van hierdie tipe musiek beskryf. Hy was ’n  knap komponis, geliefde orkesleier en meesterlike virtuoos op die trompet.   

Laat my toe om jou aan Miles Davis voor te stel

Davis sou in 2026 ’n hele eeu oud geword het, maar helaas is hy in 1991 oorlede. Wat my van sy lewensgeskiedenis fassineer, is dat hy ’n suksesvolle loopbaan gehad het wat 50 jaar lank geduur het.

Gedurende hierdie tyd het hy nie soos ’n plaat vasgehaak by die tipe musiek waarmee hy begin het nie. Hy word die “Picasso van jazz” genoem omdat hy met variasies soos “bebop” en “jazz fusion” gespeel het (letterlik en figuurlik).

Die topverkoper musiekalbum in die geskiedenis van jazz, is ook Davis se eerste plaat. Dit is in 1959 vrygestel onder die titel “Kind of blue”. Die snit “So what” word as sy mees ikoniese stuk musiek beskou.

As ek daarna luister, hoor ek energieke lewenslus en ’n bietjie onstuimigheid ... Hierdie indrukwekkende man het dan ook as “rusteloos” bekendgestaan. Hy het eenkeer gesê:

“Elke oggend as ek wakker word, begin my toekoms opnuut.

Elke dag vind ek iets kreatief om my lewe mee te verryk.”

Die oënskynlik ondankbare drif na wat anders is

Davis was iemand wat byna kompulsief en amper obsessief gegroei het. Hy was waarlik mal oor transformasie en het ’n onophoudelike strewe na verandering gehad. Hy het dit in ietwat negatiewe terme soos volg beskryf:

“Ek móét verander. Dis amper asof ek vervloek is.”

Davis wou nooit stagneer nie en was vir seker nie ’n liefhebber van die sogenaamde gemaksone nie. Hy het risiko’s met entoesiasme aangedurf, maar hy het ook met erns oor die lewe en die musiekbedryf nagedink.

Hy word vandag nog as ’n “influencer” gerespekteer. Sy uitsprake oor kultuur, politiek, mode en hoe ’n mens in die 20ste eeu “cool” moes wees, hou steeds water. Hy het insig in homself gehad en byvoorbeeld gesê:

“Eendag gaan ek myself skakel,

sodat wanneer ek die oproep antwoord,

ek vir myself kan sê: ‘Bly stil!’.”

Oor “dankbaarheid” as ’n tema het hy egter nie veel gepraat nie.  Hy was te besig om voluit te lewe.

Toe iemand hom hieroor uitvra, het hy gesê dat hy dankbaar is om te mag doen wat hy kan en wil doen, asook vir die grondslag wat ander jazz-musikante vóór hom gelê het. Intussen is musiekliefhebbers en musikante wêreldwyd oor hóm besonder dankbaar.

Mense waardeer dat hy op so ’n luidkeelse en uitgesproke manier geleef het en dat hy so ’n groot verskil in so baie lewens gemaak het en steeds maak. Naas sy ryke musikale nalatenskap, het Davis ook deure vir aspirant-musikante oopgemaak.

Hy het voortdurend sy oor op die grond gehou vir goeie instrumentaliste. In die wêreld van jazz het meerdere sterre in die orkes van Davis begin skitter. Hy het dit as sy roeping gesien om mense geleenthede te bied en sy sukses met hulle te deel.

Die bladmusiek van Miles Davis vir jóú lewe

Vir dié van ons wat nie jazz-musici is nie en net kan saam dans, is Davis ook ’n bron van motivering waarvoor ons kan dankie sê. Een van sy mees bekende gesegdes wat ons soos ’n kosbare geskenk ontvang, is:

“Jy moet lank speel om soos jouself te kan speel.”

As dit soms vir jou voel of jy nie kom waar jy wil wees nie, nog nie die persoon is wie jy wil wees nie, luister ’n bietjie jazz ... Skryf een of albei van die volgende twee leuses wat op Miles Davis se woorde gebaseer is, in jou joernaal of iewers waar jy dit oor en oor kan lees:

  1. Dit verg ’n leeftyd se speel, om uiteindelik my volkleur self te wees.
  2. Om my eie volkleur klank te vind, moet ek lank na die note soek.

Dan kan jou lysie met klagtes korter word en jou lysie met dinge waaroor jy dankbaar is, langer word. En vir die dae as jy skuldig voel oor iets wat jy verkeerd gedoen het, of soos ’n mislukking voel omdat jy ’n fout gemaak het, onthou Miles Davis se woorde:

“Dis nie die noot wat jy speel

wat die verkeerde noot is nie –

dis die noot wat jy daarná speel

wat daarvan ’n regte of verkeerde noot maak.”

Musici vertel vandag nog met dankbare harte vir mekaar stories oor kere wanneer iemand met Davis saamgespeel het en ’n flater begaan het. Dan was dit telkens Davis wat die vals noot gered het op ’n manier wat die gehoor meestal nie kon raak hoor nie.

Stop ... Dink ... Dans anders en wees dankbaar

Davis was bekend daarvoor dat hy oomblikke van stilte in sy uitvoerings ingebou het. Hierdie  pouses was soos asemteue te midde van die emosionele wipplank van die oorweldigende musiek.

Ná iemand anders se vals noot het hy meestal so ’n oomblikkie van stilte gelaat, voordat hy met ’n stukkie briljante improvisasie vorendag gekom het. Sy note het die verkeerde, vals noot letterlik gepas, harmonieus en mooi laat klink.

Die verleentheid van die musikante met wie dit gebeur het, is vandag iets waarvoor hulle groot waardering het. So beskryf Herbie Hancock in ’n YouTube Short die kosbare lewensles van sy musikale blaps:

“Miles het nie die verkeerde akkoord wat ek gespeel het as ’n fout gehoor nie. Vir hom was dit bloot iets wat gebeur het. Vir hom was dit deel van die werklikheid. Hy het ’n oomblik gepouseer en verantwoordelik gevoel om iets gepas daarmee te doen.

“Ons kan na die wêreld kyk as ’n plek waar dinge moet gebeur soos wat ons dit verkies, wat vir ons maklik is. Maar eintlik moet ’n mens groei. Dit kry ’n mens reg as jy oopkop na ervarings kyk as iets wat gebeur het en dit as jou realiteit aanvaar.

“Dan kan jy die werklikheid, jou ‘medisyne’ maak. Dan kan jy medisyne uit gif maak. Dan kan jy enige gebeurtenis kreatief en konstruktief aanwend.”

Dis wat volkleur mense doen wat die kuns van dankbaarheid inoefen en bemeester.

 

Bron: YouTube Shorts, @Stoicrockstar; How Miles Davis Adapted to a Wrong Note; toegang verkry op 22 April 2026; How Miles Davis Adapted To A Wrong Note - YouTube

BECOME A PREMIUM MEMBER 

Our premium membership includes all of Lynette's latest content. 

Let's do it!