Dis weer vakansietyd, dis rondomtalie draai
Nov 28, 2025
Ek hou van hierdie liedjie van Jurie Els! Hy vertel op vrolike note wat alles so plesierig van vakansie hou is: visvang, op die strand sit met jou tone in die sand met sonstrale op jou rug ... Klink lekker, nè? Maar dalk nie vir ons almal nie ...
Vir my beskryf die woorde “rondomtalie draai” meer hoe ek oor die tye van die jaar wanneer my werk tot stilstand kom, voel. Ek voel skoon omgeklits en gespanne as ek aan die optredes, werkswinkels, kursusse, skryfwerk, opnames, vergaderings, beplanningsessies, onderhoude, preekbeurte en nog baie meer wat agterweë bly, dink.
Nee, ek is nie gierig nie. Ek is ook nie verslaaf aan my werk nie. Ek het gewoon ’n hoë dosis van die Rasende Rooi temperament by die Here gekry. Dit maak my taakgeoriënteerd en baie gedrewe. Dit maak dat ek moeilik afskakel en myself moet vermaan om te ontspan in die wete dat ek vir ’n ruk gaan “niksdoen”.
My Rooi geite is deels die rede waarom ek dit so geniet om baie bedrywig te wees en so hard aan my besigheid te bou. My roeping en my sterkpunte is belyn in hoe ek my daaglikse brood verdien én verskil maak in die wêreld.
Die uitdaging is om my selfsorg in stand te hou sodat ek nie uitbrand nie. Ek moet alles aangaande ’n gebalanseerde, volkleur lewe waaroor ek preek, skryf en praat op myself van toepassing maak.
Dit sluit in dat ek diep moet asemhaal en die geloofsprong waag om gedurende Desember vakansie te hou. So oor die jare het ek geleer wat my hierin help, naamlik om ’n paar sake in plek te kry terwyl ek my tasse pak, blyplek organiseer en feesdae saam met vriende en familie beplan.
As ek hierdie klompie kwessies uitgesorteer het, kom daar ’n vakansie-vrede oor my en kan ek die seën van my rustyd waardeer en geniet. Miskien kan dit jou ook help wanneer jy jou welverdiende rustydjie by die huis of elders beplan.
- ’n Lysie van alles wat moet klaar wees voordat ek stop met werk en/of vertrek. Moet nou net nie in die slaggat trap om ’n ellelange lys te maak nie. (Los dit vir die Bloues wat dit geniet.) Moenie onnodig streng wees en te veel van jouself vereis nie. (Rooies, dis veral van toepassing op julle.) Maar moenie iets wat lastig of moeilik is vermy of ignoreer nie. (Geles en Groenes, hier kyk ek nou na julle ...) Fokus op dinge wat jou gaan pla of bekommer terwyl jy vakansie hou – vat hierdie pretbederwers vroegtydig vas.
- Voldoende kommunikasie oor hoe lank ek weg gaan wees en wanneer ek weer met werk gaan begin. My span, kliënte en mense wat my ken, ontvang kennisgewings op al die wonderlike digitale maniere wat deesdae beskikbaar is. Kry al jou “auto-replies” mooi in plek sodat niemand jou hoef te soek en op te jaag nie.
- Reëlings oor dinge wat moet gebeur terwyl ek weg is. Dit sluit sake in soos iemand wat namens my ’n vergadering bywoon, ’n pakkie in ontvangs neem of die swembad skoonmaak.
- Besluite oor hoe bereikbaar ek wil wees. Dit wissel oor die jare, maar ek probeer om by my besluite te hou. Sommige vakansies sien ek kans vir ’n digitale vergadering wat net enkele kere my rus onderbreek. Ander kere is my tyd vir my te kosbaar, omdat ek byvoorbeeld by familie is wat ek selde te siene kry. Dan sal ek selfs my WhatsApp-boodskappe vir ’n paar dae nie lees nie.
- Die aard van my terugkeer. Party mense hardloop sommerso van die lughawe af kantoor toe. Ander kom in die geheim terug sodat hulle twee of drie dae in isolasie by die huis kan spandeer om hulself voor te berei vir die werk wat voorlê. Ek is iemand wat graag vir ’n tyd alleen tuis is omdat ek so dikwels uitstedig moet werk en organiseer dan my tuiskoms só.
- Die maniere waarop ek wil ontspan. Ek maak voor die tyd seker dat my dae min of meer gaan verloop volgens wat vir my as ontspanning werk. Mense is altyd gewillig om saam te werk aan vakansieplanne as ’n mens in hulle temperament inpraat en as jy van die begin af openhartig en eerlik is. Pret, plesier en kuier met mense maak my as Geel persoon so gelukkig! (Ek het min Blou in my en werk daarom nie doelwitte uit oor wat ek tydens my vakansie wil leer nie, maar jy kan dit natuurlik byvoeg as dit jou ontspanning lekkerder maak. En my Rooi kant het al geleer dat niksdoen ook effektief en produktief kan wees. Groen mense sal moet sorg dat hulle genoeg alleen-tyd het en in kleiner groepies met hulle hartsmense kan saamwees.)
Elke mens verdien ’n dag waartydens hulle
geen probleme aanspreek of oplossings soek nie.
Ons almal het dit nodig om soms te onttrek
van die sorge wat nie van ons gaan onttrek nie.
-Maya Angelou
BECOME A PREMIUM MEMBER
Our premium membership includes all of Lynette's latest content.