Lynette's Blog

Post

Flinkdink oor sake van die hart

Feb 25, 2026

Het jy geweet romantiese liefde is nie net ’n gevoel nie? Het jy geweet dis ’n ingewikkelde dryfkrag of motiveringsisteem waarmee ons as mense biologies en psigologies geskape is? Klink nie baie romanties nie, nè?

 

Dis inderdaad ’n mengsel van chemikalieë in jou brein in plaas van sjampanje en sjokolade. Dis nie ’n magiese krag wat twee sielsgenote ewig en altyd gelukkig laat saamleef nie, maar het eerder ’n doodgewone, praktiese doel om die mensdom te laat oorleef.

 

Veel erger nog, romantiese liefde is ’n chemiese verslawing! Daardie heerlike verlief-raak-fase oorspoel jou brein met dopamien. Dit aktiveer die dele van jou brein wat met “beloning” te doen het. As jy ooit wonder wat nikotien of kokaïen aan mense doen – presies dit!

 

Mense wat verlief is, is letterlik, maar darem net tydelik, aan mekaar verslaaf. Ander hormone soos oksitosien bruis ook soos vonkelwyn deur die twee verliefdes se lywe en versterk hul verbintenis en behoefte aan mekaar.

 

Hierdie liefde is egter nie altyd wederkerig nie en gebeur ook nie net in verhoudings nie. ’n Mens kan tot oor jou ore verlief wees sonder dat iemand jou gevoelens beantwoord. Jy kan al die chemiese en hormonale prosesse beleef, al is die persoon duisende kilometer ver en al het jy hulle nog nooit ontmoet nie.

 

Moenie gevoelens van liefde met ’n regte-lewe-verhouding of -konneksie verwar nie. (Ja, daar is mense wat nie die onderskeid kan tref nie. Hulle ontwikkel ernstige sielkundige probleme en oortree wette in hul oortuiging dat die ander persoon hul liefdesmaat is.)  

 

Onthou, ’n mens kan jou liefdesgevoelens se intensiteit beheer. Gedigte, liedjies, Hollywood films en romantiese boeke het ons onder die valse illusie gebring dat die liefde iets is wat met jou gebeur. Dat jy dit nie kan beheer nie – soos die persoon in Hooglied wat praat van strome water wat dit nie kan blus nie.

 

En dit is so, emosies kan jou brein oorneem, maar jy bly die baas van jou brein. Jy kan met spesifieke strategieë jou gedagtes én jou gevoelens bestuur.

 

’n Eenvoudige voorbeeld om meer liefde te voel, is om op jou maat se sterkpunte te fokus. Aan die ander kant, sal dit jou help om minder verlief te voel as jy jouself voortdurend herinner aan redes waarom jy iemand nie kan of mag liefhê nie. 

 

Om van hierdie beheer bewus te wees en dit toe te pas is belangrik, want romantiese liefde kan negatiewe gevolge hê. Liefde bring vir seker vreugde en geluk, maar kan ook verwoesting saai.

 

’n Gesonde liefdesverhouding verhoog jou immuniteitsrespons en kan jou motiveer om meer gesond te leef. Dit moedig jou aan om jou doelwitte na te streef en kan selfs jou ander verhoudings verbeter.

 

Maar dit kan ook jou stresvlakke verhoog en jou slapelose nagte gee, wat jou liggaamlike gesondheid benadeel. Dit kan aanleiding gee tot jaloesie, jou aandag van jou pligte aftrek en selfs depressie veroorsaak.

 

Hanteer dus romantiese liefde op ’n verantwoordelike wyse en moenie vasval in die fantasie dat ware liefde beteken dat teenoorgesteldes mekaar aantrek nie. In die begin is die groot verskille opwindend, maar jy moet in ag neem dat dit op die lange duur wrywing kan veroorsaak.

 

Soek eerder na iemand wat ooreenkomste met jou het kragtens intelligensie, opleiding en familie-agtergrond. Gedeelde waardes en lewensuitkyk voed die liefde op die langtermyn.

 

Ja, liefde moet voortdurend gevoed word, want dit verander soos die tyd verbygaan. Hoe ’n mens in die eerste ses maande voel, hoe jy ses jaar later voel en hoe jy nog sestien jaar later voel, sal telkens anders wees.

 

Die aanvanklike passie (letterlik mal verlief wees) vervaag en word ’n dieper, kalmer toegeneentheid wat op vertroue en toewyding gebaseer is. As die vonke minder is, kan die liefde steeds hoog brand – en vonke kan altyd weer aangeblaas word as jy behoefte daaraan het.

 

Miskien is die belangrikste om te weet dat liefde ’n keuse is en moeite verg. Om verlief te raak is maklik en plesierig. Om lief te bly, verg wilskrag en toewyding aan die persoon en aan die verhouding.

 

As jy die temperamente ken en verstaan, word hierdie pad van die liefde wat twee mense saamstap, ’n volkleurvreugde vir jou hart én jou kop.

BECOME A PREMIUM MEMBER 

Our premium membership includes all of Lynette's latest content. 

Let's do it!