Jou beste is goed genoeg
Jan 14, 2026
“Kan ek jou iets vertel,” vra ’n vrou my. “Dalk kan jy ’n klip uit my hart help uithaal.” Hier is wat sy my vertel het en wat die Heilige Gees ons twee geleer het.
“Dit was een van daardie Desembermaande wanneer die kraaie nie eers gaap nie, want hulle is te uitgeput van al die hitte. Soms het ’n donderstorm ’n bietjie koeligheid gebring, maar die geskarrel in ons huis vir die Kerstyd het onverpoosd voortgeduur.
“My ma was soos altyd gul in haar gasvryheid. Ek was nie lus vir al die werk nie, maar ek het op my tande gekners en haar gehelp as ek iewers iets kon raaksien om te doen.
“Dit was nogal ’n kuns om my hande in my ma se huis uit my moue te steek, want my ma was ’n raakvatter. Daar was nie altyd die geleentheid om haar iets uit die hande te neem in háár huis nie.
“Maar so staan ek eendag en skottelgoed was. Ek het my hande soos ’n valk dopgehou. Hulle moes skoonskrop, maar op ’n sagte en versigtige wyse. Geen bord of beker mag ’n flentertjie porselein verloor nie. Glase moet blink in die helder sonskyn.
“Wat die dag en datum was of selfs hoe oud ek was, kan ek nie meer onthou nie. Maar my konsentrasie en die feit dat ek my absolute bes gedoen het, dit kan ek haarfyn onthou.
“Die water was so warm soos my ma dit verkies het, die seepbelle het hoog geglinster. My sweet het een keer in die afspoelwater gedrup, maar om water te spaar het ek nie die bak uitgetap en hervul nie. Dit was die enigste klein glipsie waarvan ek bewus was.
“Tot ek die kristalglas uit die bak opgelig het om met die spesiale sagte lappie blink te poets. Die steel met sy bolletjies waarop my ma so trots was, het onderin die bak vir my gelê en koggel.
“Hoe kon dit gebeur het? Die glas is heel in die wasbak in. Toe skoon en heel in die afspoelwater in. Ek het dit so versigtig hanteer. En tog het dit iewers in die proses gebreek. Ek het gevoel of ek kop verloor soos wat die glas sy voetstuk verloor het.
“Ek het die twee stukke eenkant neergesit en die laaste paar goed katvoet aangedurf. In my kop het ek begin woorde aanmekaar ryg om my ma die slegte nuus mee te deel. Sy was so gesteld op haar spesiale glase wat net op feesdae saam met familie uitgehaal is.
“En toe gebeur dit. Ek stamp die gebrokene se tweelingsussie teen die kraan. Haar kroon kraak liederlik. Twee glase. Twéé kosbare kristalglase daarmee heen. Twee glase met een klap stukkend geslaan, by wyse van spreke.
“My hart was ook gekraak. My teleurstelling, skaamte en berou het warm in my bors gebrand.
“Toe kom my ma opeens in die kombuis in. ‘Ma,’ het ek begin sê, maar sy het die ramp reeds gesien. Sy het ’n oomblik na die brokke en die kraak gestaar en toe na my gedraai. ‘Ongelukkies gebeur, my kind. Dankie dat jy die berg skottelgoed gewas het.’
“So was my ma. Vinnig om te vergewe en meer oor mense as oor dinge begaan. En weet jy, sy het nooit ooit weer na daardie glase verwys nie. Nie een enkele keer as ons die ander oorlewendes van die stel vir gaste uitgehaal het nie.
“Maar, Lynette, vir dekades lank is daardie dag vir my ’n pynlike herinnering. Dis asof ek net nie kan vrede sluit met die wete dat die een spesifieke keer wat ek so hartstogtelik my bes gedoen het, my ma soveel skade berokken het nie.
“En dis eintlik iets só eenvoudig: glase en skottelgoedwas. Maar ek het daarin gefaal. Dis hoe ek voel as ek terugdink aan daardie dag ...”
Natuurlik het ek verstaan hoe sy voel! Ek ken ook sulke skaam-maak-pyn-gebeure wat soos klippe in my hart gelê het.
Maar vandag is my hart lig en verstaan ek beter: Net die Here is volmaak en net Sy handewerk is perfek. Soms moet ons hieraan herinner word deurdat ons opeens met skerwe in ons hande staan.
Dit gaan ongetwyfeld in die nuwe jaar met ons en met ons mooi voornemens gebeur. En dan sal ons moet kies of die skerwe ná ons flaters ons harte gaan sny of ’n bietjie sterker maak.
As ons sorg dat harte en verhoudings in die proses nie óók gebreek word nie, is ons (onvolmaakte) beste nogtans goed genoeg. As ons dán berou het, om vergifnis vra, weer probeer, dalk ’n les leer en nuut begin, werk alles steeds ten goede vir ons mee.
As ons dán onder Jesus se versoening, sonder skuld en sonder skaamte, die skerwe by die kruis neersit en dit daar los, dán maak ons Sy Naam groot in ons klein oorwinnings oor onsself. Dit maak jou hart ligter, sterker en oop om genade te ontvang en aan te gee.
BECOME A PREMIUM MEMBER
Our premium membership includes all of Lynette's latest content.