Lynette's Blog

Post

Kyk met waardering na gister sodat môre helder wink

Oct 30, 2025

Die woord “waardeer” irriteer en frustreer my so bietjie. Nie die betekenis nie – dis die spelling wat so dikwels foutief is as die woord op een van my skerms verbyflits, wat my omkrap.  Die klein dosis Besliste Blou in my ontwaak soms as ’n streng taalpuris!

Om iets of iemand te waardeer, is om bewus te wees van hul waarde en dit dan te ag, te geniet en dankbaar oor te wees. Soms gebeur hierdie taksasie op ’n amptelike, vasgestelde, objektiewe manier.

In ons elkedagse lewe is dit meestal ’n subjektiewe, amper onbewuste breinpaadjie wat ons volg. Dink byvoorbeeld aan die waardasie van ’n huis.

Daar is regulasies en ekonomiese beginsels wat bepaal wat die markwaarde of verkoopsprys is. Eiendomsagente, ontwikkelaars, banke en munisipaliteite bereken verskillende bedrae op grond van die ekonomiese en politieke kragte wat hulle prosesse onderlê.

Die bewoners van ’n geliefde huis waarin hulle positiewe herinneringe opgebou het, sal egter ’n gans ander waarde aan dieselfde mure en dak heg. Dis baie emosioneel, dis subjektief en kan nie met logika en rekenkundige beginsels vasgevat word nie. 

Dis wat die meeste van ons elke dag doen: Ons takseer vanuit ons eie perspektief, temperament en persoonlike norme die optrede, woorde, handelinge, beginsels en so meer van ander mense.

Ons beoordeel voortdurend of iets of iemand vir ons van waarde is. Hierdie proses gebeur nie berekend en volgens spesifieke standaarde nie.

Meestal werk ons met ons gevoel. Dan werk ons vervolgens uit of ons die persoon of saak of handeling gaan geniet, respekteer, koester of op ons dankbaarheidslysie neerskryf.

Soms konfronteer die lewe jou met ’n krisis of ’n groot verlies. Dan moet ’n mens noodgedwonge jou prioriteite en jou waardes hersien. Dan gebeur dit soms dat ’n lig vir jou opgaan oor jou eie vooroordele, denkfoute en uitgediende breinpaadjies.

Dan sal jy dalk nuwe waardering vir ’n saak of ’n persoon of ’n besitting kry. As jy byvoorbeeld alles verloor, word ’n woonstelletjie in iemand se erf meer geliefd en gewaardeerd as jou gewese huis op die gholfbaan.

Hoe dan ook, dankbare mense wat hulle seëninge tel, sê  of tik of skryf dan vir iemand “Ek waardeer jou”. Hierdie “waardeer” spel ’n mens asseblief nie met 'n U nie!  

“Waardeur” is iets anders ... Dit beteken op watter wyse iets gedoen is of deur watter ding een of ander beweging plaasgevind het.

“Waardeur” laat my dink aan ’n deur wat oopgaan en as jy deur die opening stap kom jy iewers uit. Hopelik ’n mooier of beter plek as waar jy was.

Met ons beplanning vir elke maand se tema het my span vir die voorlaaste maand van die jaar besluit op: Refleksie en waardering vir helder toekomsperspektief. Want as ’n mens die onbekende nuwe jaar se deur wil oopmaak en vorentoe tree, moet jy eers seker wees van wat vir jou kosbaar is en waaroor jy dankbaar is.

Lot se vrou en die meeste motiveringsprekers beklemtoon luidkeels dat ’n mens moet ophou agtertoe kyk. Ek glo ook sterk daaraan om die verlede in die verlede te los. As jy vasgebind bly aan jou gisters, hoe kan jy voluit in vandag lewe en aanbeweeg na môre?

As jy terugkyk, jou seerkry en skaamkry bymekaarbondel en op jou rug laai, stap jy mos al hoe stadiger en swaarder. Maar hier is die verskil: As jy terugkyk en alles besin wat soos seën lyk, word jou las al hoe ligter en jy word al hoe meer lus om die volgende draai teen ’n positiewe spoed aan te durf.

Daarom is dit ’n goeie en gesonde gewoonte om te doen wat in Engels “to reflect on your life” genoem word. Voordat die vakansietyd al jou aandag verg en die verpligtinge van die nuwe jaar met jou weghol, ondersoek jou gedagtes, gevoelens, optrede en belewenisse.

Maak seker jy weet nog wie jy is, wat jou waardes en prioriteite is en watter doelwitte jy vir jou lewensdroom in plek het. As jy sin kan maak uit jou verlede, kan jy jou hede beter verstaan. En dis hierdie wysheid wat jou in staat stel om hoopvolle keuses vir jou toekoms te maak.

Takseer die goedheid en guns van die Here en mense oor jou pad. Kry ook hernieude waardering vir jou eie suksesse en groei. Dra hierdie lesse soos pêrels in jou sak. As jy in die nuwe jaar aanmoediging nodig het, kan jy hulle uithaal en moed skep.

BECOME A PREMIUM MEMBER 

Our premium membership includes all of Lynette's latest content. 

Let's do it!