Kyk saam met Lynette terug na die maand van die liefde
Mar 18, 2026
’n Liefdevolle HALLO aan al my lede
Hoe was jou Maand van die Liefde? Glo jy steeds van harte in die Liefde? Het jy as kind van die Here in Februarie 2026 ekstra aandag gegee aan hóé jy Sy liefde uitleef? Laat dit asseblief oorspoel in Maart en die res van die jaar!
Dit was ’n kort maand en hierdie geselsie van ons gaan ook korter wees, maar jy weet mos: ’n Oseaan bestaan uit ’n klomp klein druppeltjies. Die verskil wat ons as die sout en die lig in die wêreld maak, mag individueel klein lyk, maar dit vorm tesame ’n magtige teenvoeter vir alles wat genadeloos, liefdeloos en ongeregtig is.
As jy reeds ’n bietjie moeg is en jou vakansietyd oneindig ver voel, werk saggies met jouself. Doen my kursus met die titel “Blaaskans as jy uit balans voel”. Daar is 30 kort, maar kragtige video’s om jou dag mee te begin en dertig inspirerende leesstukke om jou dag mee af te sluit.
Niemand skryf voor hoe vinnig jy deur hulle moet werk nie! Gebruik jou eie tyd en hersien jou werk-lewe-balans volgens jou eie, unieke tempo.
As jy dalk nou jou wenkbroue lig oor die gedagte dat party mense hierdie tyd van die jaar nie voluit galop nie, kyk of luister na my potgooi vir Maart. Die titel is “Lewenslesse van introverte vir meer sukses by die werk”.
Ons is almal deesdae ’n bietjie verslaaf aan opwinding en selfs ek moes ’n bietjie meer “verveling” in my lewe inwerk. Om sogenaamde vervelige dinge te doen, is so gesond vir die brein!
Jy sal jou verwonder hoe maklik dit is om elke dag met net ’n paar minute jou produktiwiteit by die werk te verhoog deur ’n bietjie selfsorg in die vorm van eenvoudige aktiwiteite soos koffie drink of by ’n venster uitkyk. Toe, gaan luister wat ek sê ...
Hier is wat ek alles gedoen het om die liefde wyd en syd te versprei – en te ontvang:
Ek werk gereeld saam met die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU). Ek bied bemagtigingsessies vir skoolbesture en onderwysers aan, met die fokus op emosionele gesondheid, klaskamerbestuur en persoonlikheidsontwikkeling.
Hierdie keer het ek met hulle regsafdeling koppe en harte bymekaargesit. Is dit nie fantasties dat mense wat sorg vir geregtigheid waar ons kinders skoolgaan, ook verstaan dat temperamente verskil en die liefde op verskillende maniere toegepas word nie?
In Bloemfontein was ek vir ’n voldag werkswinkel by die mense van OFM. Ek hoor die Vrystaters is lief vir hierdie radiostasie van hulle en dis ’n LEKKER klomp volkleur mense daai!
Ek het verdere opnames gedoen vir ’n reeks vir Weeksdae Vibes met Venita op GROOTfm wat op Woensdagaande uitgesaai word. Luisteraars kan vrae oor dinge wat hulle verhoudings versuur, soos onbillike base en rebelse tieners, instuur.
Genugtig, hierdie vrae en vertellings van mense dwing my om oor sake van die lewe wat mense pla te besin. Julle Bloues hou van diep dink en doen dit amper outomaties. Vir ’n Gele soos ek is dit bietjie meer uitdagend. Maar dis hoe die liefde werk: Jou hart word geraak, jy dink en jy gaan dóén.
By Montrose Primary School in Sandton was ek wat hulle in Engels die “key note speaker” noem en het heerlik vir 90 minute gepraat. Dit klink dalk deftig, maar dis altyd ’n geleentheid om te besef hoe bevoorreg ek is om my insigte met mense te deel.
Ná al die jongmense het ek tog te plesierig met ouer mense saam gekuier en gewerk, naamlik by Ons Tuis Rivieria in Pretoria. Hulle is deel van ’n groep met ’n dienssentrum, vier versorgingseenhede en sewe verskillende residensies of “huise”.
Die Ons Tuis-bestuur is oopkop oor wat senior mense benodig, maar het ook oop harte vir mense se emosionele en geestelike behoeftes, Daarom reël hulle inspirerende byeenkomste vir hulle inwoners saam met my.
Central Development Retirement Villages wat al 15 aftreeoorde ontwikkel het, het my vir die tweede keer genooi om van hulle inwoners toe te spreek. Hierdie keer was ek in Randburg by Celebration Retirement Estate. Dit was omtrent ’n feesviering van wysheid in die grysheid!
En dan was ek op die opwindendste bootrit ooit! Letterlik, want Voelgoed Media se sestiende #Girls-bootreis het om die ooskus gevaar en daar was ’n sikloon. Gelukkig is die boot groot en ’n mens voel nooit bang nie.
Ek, Gretha Wiid, Farren Cloete en Mel die Storieverteller was saam met al die vroue “Queens of the jungle” en het soos ware koninginne geëet en gekuier. Willem Botha en Bobby van Jaarsveld het gesorg vir die musiek en danspassies.
Volgende jaar vaar hulle vir die eerste keer op die splinternuwe MSC Armonia. As jy ’n luukse wegbreek in die geselskap van opwindende mense wil beleef, is hierdie reis vir jou bedoel. Onthou net om jou begrip vir die onvoorspelbaarheid van die weer ook in te pak!
Eurolab is die grootste generiese onkologiemaatskappy in Suid-Afrika. In die Vaaldriehoek het ek met ’n groep van hulle mense wat kalm gedurende storms moet wees, naamlik susters en aptekers, gepraat en gewerk.
Kan jy dink hoeveel gebede hierdie wonderlike mense vir hulle werk nodig het sodat hulle sterk kan bly staan? Bid asseblief saam met my!
En sê asseblief saam met my dankie vir die wonderlike groei wat Leer in KLEUR beleef het. Daar is veral baie versoeke dat ons aanbiedings doen vir Graad 4’s en hul ouers.
Ek bid dieselfde positiewe groei vir jou toe gedurende Maartmaand sodat jy sterk bly staan waar jy met jou werk en besigheid aan die woeker is. Onthou om altyd heel eerste na die Here te draai voordat jy ’n besluit neem.
Maak hierdie twee kort, maar kragtige (Engelse) aanhalings jou leuses vir Maart:
Tough times never last, but tough people do.
-Robert Schuller
It is the courage to continue that counts.
-Winston Churchill
Liefdegroete met waardering vir jou as ’n lid van my platform
BECOME A PREMIUM MEMBER
Our premium membership includes all of Lynette's latest content.