Lynette's Blog

Post

Kyk saam met Lynette terug na hoe sy in April gegroei het

newsletter May 27, 2026

’n Hartlike HALLO aan al my lede

Hoe gaan dit met jou en jou groeiproses in die lewe?

Hier by ons in Lynette Beer Media is April die maand van groei en herlewing. Maar mag ek gou iets bieg? Met my Geel-brein is ek nie sistematies en ordelik gefokus op ons maandelikse temas terwyl ek so druk besig is nie.

Dis die fokus van my medewerkers wat aan ons inhoud op die webblad, blogs en dies meer werk ... Ek reis rond, tree op en ontmoet mense orals waar ek genooi word en werk met die onderwerpe wat mense aanvra.

Dan, so teen die einde van ’n maand, gebeur dit dikwels dat ’n kollega vir my sê: “Jy het hierdie maand se tema so mooi sigbaar gelééf”. Nou kyk, dit is vir seker die werking van die Heilige Gees!

Hierdie maand was dit weer so. Ek was telkemale verwonderd oor waar ek voorheen was en waar ek nou is. Vir hierdie groei in my lewe is ek so dankbaar! En dit haak nou weer so mooi aan by Mei se tema: “Dankbaarheid is die sleutel tot geluk”.

Die kaalvoetkind van gister, skepper van kennis vandag

Hierdie versreël kom uit die skoollied van Hoërskool Hennopsrivier. Dit verwoord met presisie die groeiproses van my lewe en ek het spesifiek hieraan gedink by die School of Mathematics, Science and Technology Education, NWU Potchefstroom.

Ek het in Despatch grootgeword. In ’n huis vol liefde vir die Here en doodgewone mense. Deesdae praat ons van ’n “eenvoudige” lewe, maar weet jy, ’n mens kan my grootwordjare ook noem wat dit was: arm.

Terwyl ek tussen professors en doktore gestaan het en ons gedagtes, idees en kennis uitgeruil het ná my aanbieding, het die kaalvoet atleet van my jeug ook daar gestaan. Ek het my “hand-me-down”-klere onthou en hoe ek nie spykerskoene gehad het nie. Ek het onthou hoe ek soms skaam daaroor was, al het dit nie my spoed gebreek nie.

Ek het onthou hoe ek soms by atletiekbyeenkomste honger was omdat my kosblikkie leeg was en ek nie ’n geldjie vir ’n versnapering gehad het nie. Dit het my honger na kennis en groei aangevuur en die Here het wonderbaarlike deure vir my oopgemaak.

Ek beskou dit as ’n groot voorreg dat Universiteite en ander akademiese instellings my vra om in hulle en hul studente se lewens te belê. NWU was dus ’n mylpaal en ’n merker van groot genade, soos ook my jaarlikse besoek aan die Capital Hotel School.

Ronel Bezuidenhout laat my kom om hulle tweedejaarstudente se temperamente te identifiseer en die uitdagings op hulle pad te bespreek. Wat ’n voorreg om in meer as veertig jongmense se lewens te mag inpraat!

Besigheid wat groots en suiwer groei

Leer in KLEUR staan nog in hul kinderskoene, maar dis die mooiste spykerskoene en ons vlieg oor allerhande hekkies. Ons het weer twee nuwe fasiliteerders aangestel, omdat die aanvraag so groot is. Prys die Heer!

Saam met EQ4Kids Moot en Montana was ek by Laerskool Villieria. Die onderwysers en studente wat daar werksaam is, verstaan die bydrae wat emosionele intelligensie en kennis van die temperamente aan die verskaffing van voortreflike, relevante en kwaliteit onderwys en opvoeding maak.

By Brunel Laboratoria het ek met 47 mense gepraat. Ek noem hierdie syfer spesifiek, want met Hardus se hulp het almal daar ingeteken as lede van my platform. Is dit nie fantasties nie! Dankie, dankie, dat ek met syfers kan sien hoe ons groei!

Die groeikrag van die Gees

Paasnaweek het ek gerus, maar is ook geestelik gevoed deur Capital City Church International (3ci) in Pretoria-Oos. Ek was daar op Goeie Vrydag en het weer besef hoe Jesus se woorde “dit is volbring”, ons vryspreek om elke dag as nuutgemaakte mense anders (heilig) te leef.

By die Dinsdagoggend-byeenkomste by Bossa Castle Walk is daar nou al 60 vroue wat dit bywoon. Ons praat oor hoop, die identiteit wat ons as gelowiges het en die Here waarin ons geanker is.

Dis die fondasie van die veerkragtigheid wat ons as mense in hierdie onstuimige wêreld só nodig het. En dis nie net vir jonger mense nie!

Eintlik moet ’n mens juis aan jou vermoëns om aan te pas, te verander en in jou wysheid te groei werk wanneer jou ouderdom jou “dwing” om bietjie uit te tree. By Panorama Herberg aftreeoord in Krugersdorp  en Vroee Son Boerdery in Kakamas het ons produktiewe gesprekke hieroor gehad.

Mag jy ook kan terugkyk na ’n maand waarin jy gegroei het. Mag dit jou inspireer om elke volgende maand aan te hou groei, sodat jy saam met my in Meimaand opreg dankbaar kan leef.

En so van dankie sê, gepraat: Op Sondag 10 Mei is dit Moedersdag. Maak seker jy weet wie is die vroue wat met sorg en wysheid impak in jou lewe maak of gemaak het.

As jy saam met my verlang na ’n ma, ouma, suster, tannie, niggie, kollega of vriendin wat oorlede is of vêr weg verhuis het: My innige simpatie en mag die goeie herinneringe ’n stukkie troos bring.

As jy vir ’n moeder-figuur in jou lewe ’n geskenkie wil gee, gaan na my nuwe kursus “Leef reg as alles verkeerd is” waartoe “Premium”-lede toegang het. Saam met die eerste deel se video’s en leesstukke is daar ’n gratis PDF-boekie met 30 Bybelse dagstukke.

As jy ’n “Premium”-lid is, kan jy hierdie boekie se 31 bladsye uitdruk en as ’n geskenk vir iemand gee. Jy kan dit natuurlik ook vir jouself vir jou eie gebruik uitdruk.

Seënwense vir jou groei en herlewing!

Volkleurgroete

BECOME A PREMIUM MEMBER 

Our premium membership includes all of Lynette's latest content. 

Let's do it!