Kyk saam met Lynette terug na Januarie
Feb 25, 2026
’n Liefdevolle HALLO aan al my lede
Januarie was ’n lang jaar, maar hier is ons! (Nee, dis nie ’n tikfout nie – dis ’n grappie wat ek op ’n sekere kruidenierswinkel se app raakgelees het en toe lekker oor gelag het.) Wat ek eintlik wil vra, is: Was die maand Januarie vir jou ook so bietjie vreemd?
Wat ek bedoel is: Het jy agtergekom hoe die maand tegelykertyd korter as ander maande is, en tog ook voel of dit baie langer as ander maande is?
Met die vakansiedae en mense wat verlof rondom die feesdae neem, begin die werksmaand vir baie van ons nie op die eerste, oftewel Nuwejaarsdag nie. Boonop kom baie van ons eers aan die gang as die skole open en besighede uit die blokke kom.
Tog is dit ook so dat ’n mens die maandeinde met ’n valkoog dophou, want Desember is mos ’n dúúr maand … Maar betaaldag bly ontwykend ver en dan voel die korter maand opeens nimmereindigend lank!
Nou ja, ek hoop jy het veilig en behoue in Die Maand van die Liefde aangekom en dat jy steeds van harte in die Liefde glo. Meer nog, dit is my gebed dat ons as kinders van die Here in hierdie Februarie 2026 ekstra aandag sal gee aan hóé ons Sy liefde uitleef.
Valentynsbonusse vir jou
Het jy al na my potgooi geluister met die titel “Hoe om mense te ondersteun wat méér liefde benodig”? Ek gesels oor mense wat verliese verwerk en hoe ons hulle kan help met ons praktiese omgee en ons liefdevolle woorde.
In my Oppi-Bank gesprek met die sielkundige, Dr. Kirsten du Toit, gesels ons twee oor hoe ouerliefde lyk. Ons bespreek spesifiek dat dit insluit om streng oor tegnologie te wees – met jou kinders én met jouself!
Daar is ook ’n nuwe kursus met kort video’s oor sake van die hart wat te min aandag kry. “Wat niemand jou van LIEFDE leer” is my Valentynsdag-geskenk aan jou.
Dit sal nie verlep soos ’n bos rose nie en ook nie smelt soos sjokolade nie. Dit is wel my wens dat dit jou liefdesverhouding sal laat blom en soeter maak.
My boek, Die kleure en tale van die liefde, is ook gedurende die maand van die liefde goedkoper om jou te help om jou naasteliefde sigbaar te toon. Skenk die gedrukte of digitale boek vir al die mense vir wie jy omgee.
Kliek hier om van die rooiwarm aanbod gebruik te maak:
Gedrukte boek: https://www.lynettebeer.co.za/product/die-kleure-en-tale-van-die-liefde/
Digitale boek: https://www.lynettebeer.co.za/product/die-kleure-en-tale-van-die-liefde-ebbok/
In Januarie het ek die liefde in allerlei formate raakgeloop ...
Dit het my veral weer getref hoe kosbaar dit is as ’n gesin ’n hele dag afstaan om mekaar beter te verstaan. Dis hierdie groei in begrip vir mekaar wat die liefdesbande versterk en gesond hou, sodat almal meer gelukkig en suksesvol kan wees.
Dis dan hoe my werksjaar begin het: ’n Voldagsessie met ’n gesin ... Is dit nie wonderlik dat mense hulle familie so hoog ag dat hulle ’n hele dag hieraan afstaan nie?
Vir dié wat wonder: Tydens ’n famieliesessie bespreek ons almal se temperamente nadat hulle die aanlyn toets vooraf gedoen het. Ons ontdek insiggewende waarhede oor mekaar.
Ons ontrafel misverstande, foutiewe afleidings en konflik. En ons maak planne vir die toekoms hóé om mekaar se swakpunte te vergewe en mekaar se sterkpunte op te bou.
Hierná het die jaar op ’n hupse drafstap weggetrek! Ek was in of op of by ...
- Die TV-kanaal, VIA se Goeiemôre Good Morning-program om oor Nuwejaarsvoornemens te praat
- Xanadu Private School in Hartbeespoort waar hul doelwitte insluit om leerders se geestelike groei te bevorder.
- Farrarmere Primary School in Benoni waar leerders aangemoedig word om groot te droom, hard te werk en ’n verskil te maak.
- Laerskool Dr. Annecke in Letsitele wat bekend is vir hulle “education excellence” in een van die mooiste plekke waar ek nog ooit gebly het.
- Unicorn Preparatory in Tzaneen, waar hulle op uitsonderlike wyse in integriteit glo.
- Daan Schoeman Financial Planning Solutions in Polokwane wat met hul breinkrag die hele Limpopo bedien.
- Liebenberg Erasmus wat as rekenmeesters, boekhouers en belastingkonsultante in Polokwane mense se geldsake gesond hou.
- Laerskool Newton in Kimberley wat die oudste skool in die Noord-Kaap is, maar bruis van lewenslus en innoverende idees.
- DTS Attorneys in Port Elizabeth wat glo in regsadvies van hoogstaande gehalte en wedersydse respek en openhartigheid.
- PSG Wealth in Stellenbosch wat glo in lewenslange verhoudings met hul kliënte en wedersydse vertroue.
- NG Gemeente Hoopstad waar ons die tapisserie van vrouwees gevier het deur saam te lag en mekaar te inspireer.
- Opnames vir Weeksdae Vibes met Venita op GROOTfm vir ’n reeks wat op Woensdagaande uitgesaai word. Mense kan vrae oor tameletjies in verhoudings, soos moeilike skoonouers en onbillike base, vra.
- Opnames vir spesiale programme vir RSG.
- Reinke South Africa in Potchefstroom wat besproeiingsisteme bou wat onvergelykbaar kragtens kwaliteit, innovasie en effektiwiteit is.
- Clifton Preparatory School, Nottingham Road in die midland van KwaZulu-Natal waar kinders eerste kom en hulle sterk in pret en plesier glo.
- BassFeather Country Lodge in Reitz vir ’n volkleurdag om seker te maak die maand van die liefde skop op die regte noot af.
As ek so terugkyk na die lang lysie hier bo, dan tref ’n klompie gedagtes my:
- Sjoe, dit het baie daar in Letsitele gereën! Die hele tyd terwyl ek daar was – vier dae en vier nagte. Maar ek weet nie of die (wilds)boere tóé tevrede was nie. (Soos die gedig van A.G. Visser mos grappenderwys vra.)
- Ek reis maandeliks in ’n paar weke verskriklik ver na verskriklik baie plekke. Soms verskrik dit my om daaraan te dink dat ek dit regkry EN ook nog my gewone werk soos skryf, voorberei en vergaderings hou, ingepas kry. Bid asseblief vir my!
- Ná so ’n asem-intrek-oomblik, stop ek my gedagtes. Ek dink waaroor ek besig is om te dink. En dan tree ek anders op: Ek haal diep asem. Ek kyk na Bo en ek kyk na die seëninge om my.
- Die Here is my Herder en ek kom niks kort nie. Hy vertroos en versterk my. Hy lei my op die paaie wat vir my en ander mense volkleurvreugde, vrede en rus bring.
- Daar is nog skole, besighede en gesinne wat glo in die doelwitte en visies wat hulle op hul webblaaie en brosjures plaas. Daarom kry hulle iemand soos ek om met hulle en hul personeel, ouers, leerders, werknemers, lidmate en mense in die algemeen te kom praat.
- Dit is my roeping en my voorreg om die boodskapper te wees om hul behoeftes aan insig, kennis en inspirasie aan te spreek. Dankie aan elke instansie, gemeente, skool, gastehuis, besigheid en groep wat my nooi!
- Mag julle leerders waarlik groei en verskil maak. Mag julle personeel en werknemers vreugde in hul werk ervaar. Mag julle en jul kliënte se finansies van krag tot krag gaan en mag geregtigheid geskied.
- My Geel/Rooi temperament het al ’n netjiese hoeveelheid Blou bygekry! Ek maak seker om aan die presiese benoemings van almal wat my genooi het aandag te gee, sodat jy hulle op die internet kan vind (selfs al lyk party dalk vir jou of hulle ’n spelfout bevat).
Liefdegroete met waardering vir jou as ’n lid van my platform.
BECOME A PREMIUM MEMBER
Our premium membership includes all of Lynette's latest content.