Kyk saam met Lynette terug na wat kosbaar in Oktober was
Oct 30, 2025
Hallo
Hierdie maand se nuusbrief gaan ’n bietjie anders werk as gewoonlik ... Jy weet mos hoe baie hou ons Geel/Rooi mense van verandering. Ekskuus vir die Blou en Groen mense wat verkies dat dinge so veel as moontlik in ritme bly en nie sommer woerts-warts varieer nie.
Het jy al ooit ’n artikel of “post” gelees of na ’n potgooi geluister waar ’n bekende persoon ’n klompie vrae oor hul lewe beantwoord? Hulle vertel byvoorbeeld watter kos hulle die meeste van hou of wat hulle grootste verleentheid ooit was ... Ek is mal oor sulke kykies agter iemand se skerms!
Dikwels antwoord ek dan die vrae so in my kop asof ek die glansmens is. Partykeer as ek sien ek en die persoon hou van dieselfde kos of gril vir dieselfde goed, dan geniet ek dit sommer dubbel. Doen jy dit ook?
Hierdie maand gaan ek agt vrae vra rondom agt hoogtepunte uit my werkskalender. Voordat jy lees wat ék antwoord, antwoord eers self in jou gedagtes terwyl jy terugkyk oor jou eie Oktobermaand. Sal jy dit asseblief doen?
Jy sien, op hierdie manier kry jy kans om so teen die einde van die jaar ’n bietjie refleksie te doen op jou lewe – so saam met my. Dis mos gesond vir ons, sê die dokters van die liggaam en die gees.
(As jy nou dalk saam met die taakgerigte Rooi en Blou mense wonder hoekom dit gesond is: Dit maak jou oë oop vir alles wat waardevol en kosbaar in jou lewe is. En hierdie openbaring versterk jou optimisme en hoop vir die nuwe jaar wat om die draai is.)
Vraag 1: Wat het jou spesiaal en geliefd laat voel?
Ek het verjaar. En my ouderdom is tans een van daardie syfers waar die groot mylpaal van 60 nog in die onlangse verlede lê en die komende een van 70 nog lekker vêr is. Dit het ons egter nie verhinder om op groot skaal partytjie te hou nie!
Sommer die vorige aand reeds het gawe vriende my uitgeneem vir ’n feestelike ete. Die oggend van die herdenking van my geboortedag moes ek tot my effense teleurstelling aanmeld vir ’n belangrike vergadering. My personeel het dit so half op kort kennisgewing vir my gereël.
Maar ja, jy raai reg: Dit was toe eintlik ’n verrassing-ontbyt-partytjie. Die klomp rakkers het heerlik agter my rug gekonkel en ek het só spesiaal gevoel. Die Here het by monde van die mense na aan my bevestig dat ek met ’n doel gebore is en dat elke jaar uit Sy hand ’n seën is.
Dankie, Here, vir lewe!
Vraag 2: Wat het jy van jouself gegee om iemand te help?
Of ’n mens van jou tyd of jou geld, van jou kennis of jou kragte, of jou teenwoordigheid of boodskappe deel met ander, jy word self die meeste hierdeur verryk. Jy mag en jy kan gee na die mate en op die wyse wat vir jóú moontlik is – sonder om jouself met ander te vergelyk.
Ons elkeen stap ons eie, unieke pad in die deel van ons voorregte. Maar dat dit ’n heerlike voorreg is om te gee en dat ons dit voluit moet doen, dit glo ek van harte!
As jy van groen gras, skaduryke bome, glinsterende sonskyn, rondrits op ’n karretjie en vrolike mense hou, is ’n gholfdag waar fondse ingesamel word, een van die lekkerste maniere om van jou tyd en geld af te staan. As jy self graag gholf speel, is dit natuurlik ’n bonus dat jou ontspanning ander mense help.
Lynette Beer Media het ’n stalletjie by die gholfdag van Bossa Castle Walk (’n heerlike restaurant waar ek dikwels kom) by die stylvolle Wingate Park Country Club gehad. Ek was ook die seremoniemeester by die prysuitdeling.
Die fondse wat op hierdie prettige dag bymekaargemaak is, het na Tshwane Place of Safety Association (Tshwane Haven), DBV (Dierebeskermingsvereniging) Centurion en ADASA (The Association for Dementia and Alzheimer’s of South Africa) gegaan.
Dankie, Here, vir meer as R300 000 wat verskil maak!
Vraag 3: Wat het jou in die liefde laat glo?
My videograaf, Leán Nagel, die eienaar en baas van Wilde Media Productions, het met die lieflike Michaela Agathopolous getrou. Saam met haar Griekse familie het ons behoorlik bruilof gehou, borde gebreek, gedans en die liefde op groot skaal gevier.
Saam met ander vroue in ons maatskappy het ek ook die vooruitsig na die koms van die kleine Kyle, die seuntjie van Chris-Mari Holtzkamp, ons Bemarkingsbestuurder, gevier. Babatee’s is tog so heerlik ouderwets en terselfdertyd ’n viering van die wonderwerke van al die moderne babagoed wat deesdae beskikbaar is!
Ons het almal nodig om gereeld tekens van liefde tussen mense te sien. Daar waar mense omgee, vriendskap, romanse, ouerskap en enige ander vorm van toegeneentheid toon, daar word God sigbaar. Waar God se liefde is, is daar geen vrees nie en kry al die getuies weer hoop dat die goeie sterker as die slegte is.
Dankie, Here, vir die gawe van die liefde!
Vraag 4: Wat het jy nuut geleer of meer van geleer?
As ’n mens ’n kind van die Here is, het jy ’n onophoudelike nuuskierigheid oor Hom en Sy skepping. Daarom is daar voortdurend iets nuuts om te leer en jou brein mee te “rek en strek”.
So ’n uitdaging het my te beurt geval toe ek in Middelburg op uitnodiging van Playball oor die impak van selfone op ouers en kinders gepraat het. Hierdie organisasie bied sport-aktiwiteite vir jong kinders aan.
Hierdeur kan kinders hul talente in die sportsoorte wat op skool aangebied word, verbeter. Meer nog: Hulle leer lewenslesse rondom selfvertroue, spanwerk en die genot van ’n aktiewe lewe. Self het ek ook lesse geleer, hoor!
Tydens my voorbereiding het ek gelees oor slimfone se impak op die slim-wees van babas knap na geboorte, kleuters, laerskoolkinders, tieners en grootmense. Ons kan nie meer fone wegwens nie, maar ons moet gewis ons oë oopmaak vir die aardskuddende impak op ons verhoudings en kommunikasievernuf.
Dankie, Here, vir kennis wat mag is!
Vraag 5: Is jou konneksies met jou gemeenskap nog gesond?
Wanneer mense groei, groei besighede. ’n Gemeenskap wat hoop kry, word ’n mark wat groei, werk en bou.
Dis hoekom Due4Rescue geloods is en ek die voorreg gehad het om by Shalom Montana deel te gewees het van dié geleentheid. Die doel van hierdie organisasie is om benadeelde individue en gesinne op te hef.
d4r.co.za streef daarna om betekenisvolle geleenthede vir mense wat vasgevang in teenspoed is te skep, sodat hul selfvertroue kan groei en hulle vaardighede kan ontwikkel. Die uiteindelike doel is dat hulle weer sodanig deel word van ’n gemeenskap dat hulle op hul beurt mense kan ondersteun.
Dankie, Here, vir florerende en deernisvolle gemeenskappe!
Vraag 6: Deel jy die wysheid wat jy opgebou het met ander?
Ons elkeen weet meer as wat ons dink ons weet. Ons het egter nie noodwendig almal die lus of die temperament om voor mense op te tree of boeke te skryf nie. Maar elke enkele mens kom elke enkele dag met iemand in aanraking wat by jou iets kan leer.
Al is dit net dat hulle beleef dat jy vriendelik, hoflik of bedagsaam is. Of dat jy vertel wat die Here vir jou gedoen het of dat jy ’n skakel na ’n inspirerende potgooi met die persoon deel. Wysheid is ook om te weet wanneer om juis niks te sê nie en net teenwoordig te wees.
Hoe dan ook, of jy sestien of ses-en-dertig of ses-en-vyftig is, jy het onder leiding van die Gees en uit die Woord sekere insigte en kennis bymekaargemaak. Moenie dit vir jouself opgaar nie – deel dit!
So was ek dan by die plesierige 60-plussers van die Meyerton Sosiale Senior Burgers-klub. Ons het die openbaring van hoe ons verskillend bedraad is, verken op ’n unieke, senior wyse.
Dankie, Here, vir U wysheid wat soos water lewe gee as ons dit uitdeel!
Vraag 7: Waaroor is jy spyt en wat kan jy nóú daaraan doen?
Dis heeltemal piekfyn om na binne te kyk en die Lig in jou donker hoekies te skyn. Ons is almal feilbare mense met dinge waaroor ons spyt het of dinge waarop ons uitgemis het. Maar jy het nog vandag en so die Here wil, ook môre om dinge reg te maak of anders te doen.
Die Moeder-en-dogter-dag by Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen het my dik stukke na my ma laat verlang. Dit het my weer getref hoe jammer ek is dat ek nie die Vierkleurtemperamentmodel volledig verstaan het terwyl sy nog geleef het nie.
Maar weet jy, wat ek nou doen, is deel van my ma se mooi nalatenskap. Wanneer ek van haar vertel, rol my eie trane, maar ook dié van ander ma’s en dogters. Ons lag lekker en ons leer mekaar verstaan sodat ons met minder skuld en spyt kan leef.
Dankie, Here, vir insig, regmaak en nuut begin.
Vraag 8: Wat het jou soos ’n kind laat lag en speel?
Is jy dalk ’n kwaai Rooie wat nie in speel glo nie? Of ’n Bloue wat te ernstig is? Of ’n Groene wat te gereserveerd is? Ons Geles gaan julle leer van die genesende krag van gereelde kinderlike pret en entoesiasme!
Laerskool Risiville in Vereeniging het my genooi om met die Graad 4-7 leerders te werk. Ons het oor die konsep veerkragtigheid gelag, gedans, gesing en gepraat. Ek het my gate uit geniet! Jitte, om so intensief met die lewenslus en kreatiwiteit van sulke jong jongmense te werk, motiveer my meer as drie dae by ’n spa.
Dankie, Here, dat speel ons stresvlakke verlaag en ons vermoë om probleme op te los, verbeter.
En dit was dan nou my agt vrae aan jou ...
Dankie aan al die besighede, skole, organisasies, kerke en individue wat my nooi. Ek kan nie almal noem nie, maar glo my, elke enkele optrede en interaksie is vir my kosbaar. Op Facebook en Instagram “post” ek oor alles en almal.
As ek terugkyk oor die maande wat verby is, het ek soveel waardering vir ieder en elk ... Jy wat ingeskryf is en my brief lees, is ook vir my kosbaar. Ek glo dat die Gees my deur alles wat ek in my werk doen en beleef, slyp en dat Hy my wysheid laat groei.
Dankie, Here, vir mense met wie ek wat U my leer, mag deel.
Geel groete
Lynette
BECOME A PREMIUM MEMBER
Our premium membership includes all of Lynette's latest content.