Lynette's Blog

Post

Leer my u paaie ... die hele dag (Psalm 25)

Jun 26, 2026

Ek onthou meer as ’n dekade later steeds die mooi dag toe ek iets oor my brein ontdek het wat ’n radikale positiewe impak op my lewe gemaak het. Dit het soos ’n verrassende bonus gevoel ná die groot genade van hoe ek die temperamente ontdek het.

Daar het al ’n paar jaar verloop teen daardie tyd ... My persoonlike verhoudings en my loopbaan het geblom omdat ek geleer het dat mense van mekaar verskil en dat dit so moet wees.

In die maatskappy waar ek as ’n direkteur gewerk het, het ek die riglyne met groot finansiële sukses toegepas. Ek het die wêreld vol gereis om die vier kleure en hulle tipiese eienskappe vir verskillende gehore te verduidelik.

Mense het dit goed ontvang en ek kon sien en beleef hoe konneksies tussen mense by werksplekke, in gemeentes en in families beter word. Ek het begin om my eie besigheid op te bou, boeke geskryf en privaat sessies met individue, egpare en gesinne aangebied.

Hoe belangrik dit is om te verstaan hoe jou brein werk, het ek deeglik besef en oor nagelees. Hoe om met die SDT-metode (Stop, Dink, Tree dan anders op) jou ingebore swakpunte te bestuur, was ’n onmisbare deel van my praatjies, preke en boeke.

Hoe om jou eie emosionele intelligensie te oefen en te vergroot, het onlosmaaklik deel geword van my aanbiedings. Ek het besef dat kinders en tieners ook hiervan moet leer en my dienste verder uitgebrei met EQ4Kids en Leer in KLEUR.

Maar daar het nog een stukkie kennis kortgekom, selfs al het ek dit nie van die heel begin af geweet nie. Wat was daardie goue sleutel wat ek by my ander sleutels gevoeg het? Dat die brein neuroplasties is.

Nee, ek bedoel nie jy het baie mikroplastiek ingeneem en dat jou harsings van plastiek is nie! Die konsep wat oor my pad gekom het, was breinplastisiteit – die orgaan in jou skedel se merkwaardige vermoë om lewenslank fisies te verander.

Die menslike brein is ontwerp om gedurende jou hele lewe aan te hou om te leer, aan te pas en nuwe neurale verbindings deur ervaring te vorm. Ons weet deesdae dat selfs die oudste en mees beskadigde brein kan herstel en wonderbaarlik kan funksioneer.

Jy sien, dit was iets wat my deurlopend bekommer het: Wat as ek te laat of te vroeg in iemand se lewe inpraat? Wat as iemand al gevorderd in leeftyd is, of weens trauma ’n klein bietjie of groot hoeveelheid breinskade opgedoen het?

Hoe kan ek dan preek, praat en skryf oor hoe om jou brein te bestuur en nuwe lewensvaardighede aan te leer? En hier het ek die antwoord gekry: Niemand van ons het enige verskoning om te groei nie.

Jou brein is dol oor groei en begeer dit! Jou brein hou niks van stagnasie nie. Om in ’n groef vas te val en in daai groef te bly lê, is letterlik vir ’n mens dodelik.

Jou brein weet as jy jou potensiaal onderdruk. Dis dan wat ’n mens gefrustreerd en  ongemotiveerd voel. Dis dan dat jy wens jy kan ophou vashaak in jou lewe soos een van die outydse langspeelplate uit my jongdae.

Ek, jy en alle mense is inherent gerat vir voortdurende verbetering van jou geboorte tot jy jou laaste asem uitblaas. Ja, dis in jou gene ook! Jou rat is dalk kleiner omdat jou temperament of omstandighede anders is, maar elkeen van ons beur boontoe, vorentoe op ons eie manier.

Dis hierdie voortdurende leerproses wat vir jou ’n gevoel van tevredenheid met die lewe gee. Dit bring vrede en vreugde, al verg dit moeite en harde werk. Dit verlaag jou stresvlakke, al moet jy vir kort rukkies met groot inspanning werk en woeker.

Wat jy presies leer, is jóú keuse. Wees net voortdurend daarop ingestel en gefokus om daarmee besig te wees. Dit hoef nie aardskuddend van aard te wees nie. Jou hemelse Vader sal stil-tevrede oor jou wees as jy die brein wat jy ontvang het, elke dag inspan.

 

Leer is die enigste ding wat die gees

nooit uitput, nooit vrees, en nooit berou nie.

– Leonardo da Vinci

BECOME A PREMIUM MEMBER 

Our premium membership includes all of Lynette's latest content. 

Let's do it!