Lynette's Blog

Post

Mag die krag van konneksies by jou wees!

Jun 02, 2026

Is daar ’n TV-reeks of film waarvan jy verskriklik baie hou? Hiermee bedoel ek dat jy sekere episodes of die hele film by herhaling kyk en elke keer geniet. Dalk het jy ’n T-hemp wat daarna verwys, of boeke in jou boekrak wat daarop betrekking het.

Jy gesels graag met ander mense daaroor en jy kan vertel wat die impak daarvan op jou lewe is. Miskien het dit jou verstaan van die liefde, menswees of spiritualiteit verander, of dit laat jou doodgewoon heerlik ontspan, met ’n paar trane of met gul lagbuie.

Miskien het jy as gevolg daarvan nuwe vriende gemaak, wyer begin lees, musikale of gastronomiese horisonne verken. Dalk het dit jou gehelp om iets in jou persoonlike verlede te verwerk, of iets van die mensdom beter te begryp.

Dalk het jy selfs ’n bootreis, toer, konferensie of saamtrek van bewonderaars bygewoon om nog meer te wete te kom en saam met jou soort fliekvlooie te kuier. Of dalk is jou liefde vir sekere films of reekse iets wat jy juis as spesiale alleentyd koester.

Masterchef, Boer soek ’n vrou, 7de Laan, Getroud met rugby, Koöporasiestories, Orkney snork nie, Suidooster ... Hierdie goue oues kom dadelik by my op. Watter kan jy onthou? Deesdae is dit Ludik, Die Byl en Wyfie wat mense aan die praat het. 

Ikoniese Afrikaanse films sluit Fiela se kind; Paljas; al Leon Schuster se klassieke titels; Dis ek, Anna; Pad na jou hart en Semi-soet in. Maar ons hou ook van internasionale supertreffers soos The Lord of the Rings.

Die skrywer van die gelyknamige boek, J.R.R. Tolkien, is mos in Bloemfontein gebore. Sedert die eerste vertoning van die eerste film in 2001 was teaters sodanig uitverkoop, dat hervertonings van die trilogie gereeld plaasvind. Ja, selfs in 2026!

Maar dis die Star Wars-films wat gereeld plaaslike rekords breek. In 2015 het The Force Awakens op die heel eerste dag 70 000 liefhebbers bymekaargetrek. Hier te lande is “May the 4th”-vierings steeds gewild en sê mense lispelend vir mekaar: “May the force be with you”.

Ons is lekker trots op twee Suid-Afrikaners, die klankoperateur, Nick James en die animeerder, Nadia Darries wat meegewerk het aan Aau's Song in die Star Wars: Visions-reeks. Speelgoed en plakkers met karakters, soos die skatlike Grogu, verkoop soos soetkoek, al is die ekonomie bitter.

Vir my as ’n leek aangaande hierdie fenomenale films, was dit die beroemde en geliefde uitdrukking oor “the Force” wat my aandag getrek het. Jy sien, iemand wat dol is oor die hele franchise het my vertel waar dit vandaan kom.

George Lucas, die vervaardiger, skrywer en genie agter die Star Wars-“heelal”, het dit die eerste keer in ’n film gehoor wat in 1963 gemaak is. Dis donkiejare gelede! Hy was toe nog ’n student en het dit agterná nog meer as 24 keer gekyk.

Die film is deur ’n Kanadees, Arthur Lipsett, saamgestel uit snippers filmrol en klankbaan wat deur mense weggegooi is. Dis net nege minute lank en heet: 21–87. Die film is vreemd, eksperimenteel en jy kan dit by https://www.nfb.ca/film/21-87/ kyk.

Dit bevat ’n snit uit ’n gesprek tussen Warren McCulloch, ’n pionier in die veld van kunsmatige intelligensie en Roman Kroitor, ’n Kanadese filmprodusent en een van die stigters van IMAX. Hulle gesels oor menswees, tegnologie en films.

McCulloch sê hy glo mense is niks meer as komplekse masjiene nie. Kroitor verskil van hom en sê: “Many people in contemplating nature and communicating with other living things, become aware of some kind of force or something behind this apparent mask which we see in front of us”.

Lucas en Lipsett het mekaar nooit ontmoet nie. Tog was hierdie film-uit-die-asblik die vertrekpunt van “The Force”, daardie “iets” wat miljoene mense wêreldwyd aangryp. Dis dekades later woorde wat oor die hele planeet gebruik word.

Die verbruikers het ’n woordelose, maar baie presiese begrip van wat bedoel word. “The Force” in Star Wars is iets wat die karakters nie as ’n wapen gebruik nie. Dis iets wat jy volg ter wille van harmonie en vrede.

Jy kan dit nie sien nie en ook nie keurig in handboeke defninieer nie. Jy sien dit egter duidelik in die optrede, waardes en karakter van die Jedi, die ruimte-monnike wat met hul ligswaarde die goeie beskerm en duistere magte beveg.

“The Force” gee die Jedi die kalmte en wysheid wat hulle gebruik om aggressie en vrees te oorkom. As iemand wat graag die wapenrusting van die Gees aantrek en lig vir die wêreld wil wees, glo ek in die krag wat ons in die Naam van Jesus Christus ontvang.

Ek word aangegryp deur Die Bybel. Ek is passievol om meer te wete te kom oor die waardes en wysheid wat ’n gelowige lewe kenmerk.

Dís hoe ons ’n gemeenskap van gelowiges bou wat nie net aanlyn, digitaal of tegnologies kommunikeer nie, maar tasbare hoop bring waar wanhoop heers. Gelowiges wat God se liefde aktief versprei deur dade van barmhartigheid.

Mense wat die sosiale media-kultuur verander deur nederige diensbaarheid en liefde, eerder as deur geskreeu. Wat opstaan teen onreg en omgee vir die weerloses. Wat leef as oop, lewenslange reekse of films waarin God en Sy liefde vir alle mense sigbaar word.

BECOME A PREMIUM MEMBER 

Our premium membership includes all of Lynette's latest content. 

Let's do it!