Markeer die pas voordat jy wegtrek met ’n nuwe jaar
Jan 14, 2026
Sommige mense word geaktiveer deur ’n nuwe jaar wat wink. Ander voel oorweldig. Dit het met jou ingebore temperament te doen, maar natuurlik ook met die hoeveelheid seerkry wat jy met jou uit jou verlede saamdra.
As iemand dan in die verbygaan, sê “Ag nee, man, ruk jou reg. Kom, kom, kom, beter dae lê voor, word tog net ’n bietjie meer entoesiasties,” gaan dit vir seker nie help nie. ’n Mens kan nie jou blydskap en hoop met die druk van een of ander innerlike knoppie méér maak nie.
Die pad van seerkry tot genesing is uniek vir elkeen
Selfs al is jy die grootste optimis, kan onverwerkte pyn uit jou verlede ongevraagd opeens by jou kom spook. Al het jy wavragte vertroue in jou vermoëns om uitdagings suksesvol te hanteer, kan die chaos van ons wêreld ook vir jou kom pootjie.
Miskien kan ons dan vir onsself en vir mekaar sê: “Jy is heeltemal reg om nou af te voel. Jou reaksie is normaal gegewe die abnormale omstandighede of krisis wat jy raaksien of beleef.”
Natuurlik wil ons nie onsself of iemand anders aanmoedig om daar onder in die put te bly sit nie. Ek is net nie so seker of dit oral en altyd gepas is om iemand nou dadelik terug te dwing na uitbundige blydskap of ’n alles-is-eensklaps-vergewe-en-weer-reg-ingesteldheid nie.
Dink net, as jy verskriklik kwaad is vir iemand of ontsettend seergemaak voel, hoe vêr verwyderd is jou emosies nie van vrede of vreugde nie? Dit voel of daar ’n nimmereindigende vlakte tussen genesing en hoe jy nou voel, lê.
Maar dink nou aan ’n plek tussenin ... Daar waar jy nie meer intens haat of huil nie, maar ook nog nie volkome heling van jouself verwag nie.
Die halte waar jy rus tot jy verder stap na jou genesing
Dis nie ’n koue plek waar jy met minagting iemand uit jou lewe stoot nie. Dis ook nie ’n plek waar jy iemand probeer straf of ’n reaksie probeer uitlok nie. Dis ’n plek van aanvaarding, radikale vrede sluit met die werklikheid.
Dis ’n stiller, kalmer plek. Een waar jy nie meer raas en tier of kop verloor nie. Jy kan weer jou aandag plaas op wat jy kan beheer, naamlik jou eie reaksie en jou heling. Jy dink letterlik meer aan jouself as aan die oortreder of die pynlike gebeure.
Jy word prakties: Wat moet dadelik gedoen word? Wat is nou belangrik om te oorleef? Wie kan my hiermee help en watter dinge het ek reeds in plek om die ergste van hierdie storm af te weer?
Die tussenin plek is ’n minder eensame plek as die put waarin jy was. Dis steeds heilige grond en net die mense in wie jy vertroue het, mag saam met jou hier vertoef.
Die oortreders en toksiese omstandighede kom nie hier nie. Hulle staan vêr weg, al is hulle en die pyn wat hulle veroorsaak het nog deel van jou werklikheid. Jy kan hulle nog aanvoel of sien hulle dalk selfs daagliks. Maar hulle oorheers nie meer jou visie nie.
Hoe dit voel om by ’n plek van neutraliteit te kom
Jy weet jy het nog werk om te doen. Maar omdat jy vrede sluit met die onreg en die swaarkry as deel van jou stukkende wêreld, word jou brein kalmer. Nou word oplossings en kreatiewe planne meer moontlik. Jou neutrale visie kan ’n beter toekoms visualiseer.
In hierdie plek van aanvaarding neem ’n mens nie meer dinge so persoonlik op nie. Jy voel nie meer so vervolg en verontreg nie. Die onreg in jou lewe is dieselfde onreg wat alle mense tref. Méér nog, dis dieselfde pyn waaruit ander mense kon opstaan en dus kan jy ook.
Hierdie wete maak niks beter nie, maar dit help jou om tuis te voel in die plek van neutrale aanvaarding. Jy voel ligter, want jy het die plig van bly wees onder alle omstandighede volgens die voorskrifte van mense van jou afgehaal.
Jy en die Here weet dat blydskap nou vir jou beteken dat jy met ’n ligter hart kan bid en weer vaagweg lofliedere begin onthou. Miskien sal die mense om jou nog nie tevrede wees nie, maar jy weet jy vertoef net tydelik op neutrale grond.
Jy gáán hier wegstap en die volgende treë na volkome genesing gee. Jy gáán weer energiek, uitbundig en entoesiasties oor die lewe word, op jóú manier en binne jóú temperament. Net nog nie nou nie.
Vir nou is dit ’n verligting om nie meer van haat, woede, jaloesie, verdriet, angs, pyn en bitterheid aanmekaargesit te wees nie. Nou hoef jy nie meer hand en tand teen wat gebeur het te veg nie. Jy ontken dit nie, maar jy haal die angel uit.
Die wins wat daar in neutraliteit is
Jy mors nie meer jou kragte op vrae soos “hoekom ek?” en “wat het ek gedoen om so gestraf te word?” nie. Jy is nie meer teleurgesteld in jouself, die persoon of die Here nie. Die situasie is wat dit is ...
Jou fokus op neutraliteit maak nie wat verkeerd is reg nie, maar dit verander jou energievlakke. Dit bevry jou om jou kragte wat deur negatiewe emosies ingeslurp is, meer opbouend te begin inspan. Soos byvoorbeeld deur aan vergifnis te werk ...
Is dit maklik of eenvoudig? Vir seker nie. Dis kompleks, moeisaam en dit gaan voel of jy téén jouself moet werk. Dis waarom jy dit nie sonder die Here sal kan doen nie!
Laat Sy Woord en Sy Gees jou onderskraag, bemoedig en lei. Rus dan ’n ruk op jou neutrale grond. Herwin jou kragte. Op die regte tyd, sal jy weet dis tyd om aan te beweeg na daar waar jy volkome genesing, vrede, vreugde, hoop en geluk kan voel.
Die verligting en die vryheid wat jy op jou neutrale grond beleef, gee jou kans om diep in jou eie hart in te kyk. Jy onthou weer of ontdek vir die eerste keer wat jou droom is. Dis hierdie droom wat jou saggies aanpor om nie te lank te talm nie.
BECOME A PREMIUM MEMBER
Our premium membership includes all of Lynette's latest content.