Moet jou naam dalk Uitstel wees?
Mar 04, 2026
In Genesis 11:24 en Jeremia 36:12 is daar twee name wat “om uit te stel” beteken. Hulle is Tera, die pa van Abraham en Delaja, ’n deftige sekretaris.
By jou werksplek is daar heel waarskynlik niemand met een van hierdie name nie. Tog is ek seker jy werk saam met ’n paar rakkers wat lyk of so ’n naam hulle goed sal pas.
Dalk is jy self iemand wat aan die siekte van “procrastination” ly. Die Duitsers het ’n pragtige woord hiervoor: Aufschieberitis, oftewel afstel-itis. Want jy weet mos: Van uitstel kom afstel.
As ouers hul kind op grond van dié gedoente ’n naam sou wou gee, is Frans moontlik hul beste opsie. Die naam Remettre sal skoon romanties klink! Veral as die kind se van Du Toit of Le Roux is. Remettre van der Merwe klink bietjie minder eksoties ...
In die meeste tale hier aan die onderkant van Afrika, soos Venda, Xhosa, Sotho en Zulu, is daar nie persoonlike eiename wat verband hou met uitstel nie. Dis vir my ’n mooi beginsel.
Dis goed dat iets wat ’n negatiewe konnotasie het, nie in ’n persoon se naam uitgespreek word nie. Woorde het mos krag!
Daar is wel name wat na “verwagting” en “afwag” verwys, soos Lindiwe en Tebello. Dit laat my aan ’n eienskap van die Here dink: Hy stel soms iets waarvoor ons vra, uit. Ons moet geduldig wag en aanhou hoop, maar Hy stel nooit Sy seën en genade af nie.
Kyk nou hoe lekker stel ek dit uit om by my eintlike tema uit te kom, naamlik hoe mense met Geruste Groen en Besliste Blou temperamente die naam Uitstel verdien. Of liewer: Hoe sterk ons persepsie is dat hulle hul hieraan skuldig maak.
Met kennis van hoe ons kollegas bedraad is, kan ons vir elkeen ’n plekkie in die span gee. Een waar hulle swakpunte bestuur word en hul sterkpunte uitgebou word tot voordeel van almal.
Die Groen en Blou draadjies in die tapisserie van ’n werksplek sorg vir balans. Hulle sorg veral vir harmonie in plaas van voortdurende konflik en weldeurdagte besluitneming in plaas van holderstebolder keuses.
Hoekom lyk dit of Groen so gerus voel oor uitstel?
Groen mense is kalm, gemaklike, vreedsame kollegas. Hulle is staatmakers, maar lyk dikwels of hulle nie aan die gang kan kom nie en of hulle nooit snap dat iets dringend is nie.
Hulle is uiters betroubaar en geduldig. Hulle werk altyd volgens vertroude metodes, sisteme en resepte – maar eers ná hulle lank gesloer en gedraal het om te begin.
Hulle ingebore lae energievlakke veroorsaak soms dat hulle geleenthede mis en pligte met keerdatums tot op die nippertjie laat lê. Hulle aversie in konflik beteken dat hulle regtig niemand wil kwaad maak nie, maar hulle wil ook nie hulself onnodig dryf nie.
Hulle verkies om die vrede te handhaaf deur alles op die maklikste manier te doen, met die minste weerstand. Uitdagende take maak hulle by voorbaat moeg en huiwerig.
Hulle benut hul beperkte energie deur alles in die lewe teen ’n rustiger tempo te doen. Ook by die werk ... Daarom lyk dit vir die mense wat saam met hulle werk of hulle baie eksterne motivering benodig.
Omdat hulle meestal hul gevoelens en gedagtes nie met ander mense deel nie, lyk hulle gereserveerd en passief. Terselfdertyd sal ’n Groen persoon ook ter wille van ’n harmonieuse atmosfeer komplekse besluite of verpligtinge van hul afskuif.
Hulle doen dit soms weens hul natuurlike vreesagtigheid. Maar hulle doen dit ook dikwels omdat hul omgee-harte niemand wil ontstel of verontrief nie.
Hoe Groen by die werk effektief en produktief kan bly
- Wees eerlik oor jou menslikheid en vergewe jouself onmiddellik.
- Wees veral eerlik oor waar die grens tussen selfversorging met voldoende rus oorgaan in selfsug en lyf wegsteek.
- Maak seker jy ken die verskil tussen ware vrede en die vermyding van konflik uit onnodige vrees vir gesprekke en take wat uitdagend en kompleks is.
- Sluit vrede met konflik en vermeerder jou kennis oor hoe om dit op te los en jou natuurlike diplomasie en sin vir humor hierin aan te wend.
- Breek projekte, take en pligte op in kleiner dele wat met presisie omskryf is, sodat jy nie oorweldig voel nie en ook nie weens onduidelikheid iets van jou afskuif nie.
- Oefen jou selfdissipline soos wat ’n mens ’n spier oefen en wees meer streng op jouself om met take te begin en jou keerdatums te haal.
- Skep roetines, stelsels en sisteme wat keer dat jy deur ander mense gemotiveer moet word – motiveer jouself om iets te doen omdat dit tot jou eie voordeel is en dié van jou maatskappy of kollegas.
- Herinner jouself herhaaldelik aan ’n leuse soos: “Ná aksie volg meer energie” of “Begin net, die res sal volg” of “Wat ek vandag doen, maak môre vir my makliker”.
- Gun jouself voldoende rus volgens jóú behoeftes en nie ander mense s’n nie, sonder om daaroor skuldig te voel – maak dit deel van jou gesonde leefstyl.
Waarom Blou beslis die wenners in die Uitstel-kategorie is
Blou mense is gewoonlik nie bang om selfondersoek te doen nie. Hulle sal self na die podium stap en die medalje vir beste uitsteller van die jaar om hul nek hang. Hieroor voel hulle dikwels skuldig en ’n bietjie magteloos om hierdie swakpunt te verbeter.
Hulle is analities, gefokus op detail, baie pligsgetrou en hiper-verantwoordelik. Hierdie mooi sterkpunte word ongelukkig struikelblokke, want dit gee aanleiding tot ’n tipe verlamming wat op die oog af soos luiheid of uitstel lyk
Foute laat Bloues in ’n diep put afsak ... Hulle gevoelens van minderwaardigheid en skuld ná ’n flater lê so swaar op hulle, dat hulle eerder nimmereindigend vir die perfekte tyd en nog meer inligting wag. Dit maak hulle passief en laat hulle onttrek.
Hulle oor-analiseer en bedink sake oormatig. Dit laat hulle vasval in beplanning en lysies wat oor en oor hersien word en so kom Bloues nie aan die gang nie.
Hulle is besonder sensitief en krities op hulself. Die vrees dat iemand anders ook nog fout met hulle werk gaan vind, weerhou hulle daarvan om met iets te begin.
Hulle voel dikwels moeg of verlam omdat hulle gedagtes gedurig besig is met negatiewe idees of herinneringe wat hulle dreineer. In Engels word dit “rumination” genoem en dit steel hulle motivering.
Boonop sukkel Blou met besluitneming. Hulle het ’n groot vrees om die verkeerde keuses te maak en dan stel hulle dit so lank uit dat dit later eintlik afgestel is.
Hoe Blou die las van uitstel kan ligter maak
- Wees eerlik oor jou menslikheid en vergewe jouself onmiddellik.
- Wees veral eerlik oor jou perfeksionisme as ’n swakpunt, asook jou geneigdheid om op die negatiewe te fokus en oormatig krities te wees.
- Sluit vrede met foute en flaters en word vriende met laer standaarde wat steeds van ’n gees van uitnemendheid getuig, maar uitvoerbaar is.
- Verander jou algemene ingesteldheid na “goed genoeg” en aanvaar dat werk nie foutloos hoef te wees om as afgehandel geklassifiseer te word nie.
- Verminder jou vrees deur take in kleiner stappe te verdeel, selfs al voel dit vir jou of dit die werk minder perfek maak.
- Skep streng, realistiese keerdatums vir die kleiner takies waarin jy jou projekte verdeel het, sodat jy jouself keer om nie in die beplanning-fase vas te haak nie.
- Monitor die stem in jou kop en vervang negatiewe kritiek met opbouende frases, Bybelverse of leuses.
- Herinner jouself voortdurend: “Klein treë word later ’n groot reis” of “Afgehandel is beter as perfek” of “Ek kies progressie in plaas van perfeksie”.
BECOME A PREMIUM MEMBER
Our premium membership includes all of Lynette's latest content.