’n Tyd om te bou en ’n tyd om bande te breek
Jun 02, 2026
Wanneer ’n mens temperamente ontdek, verken en uitleef, word jou lewe oor die algemeen gelukkiger en meer suksesvol. Wanneer ’n mens tyd maak vir selfondersoek, en aan jou emosionele intelligensie wérk, staan jy jou plek in die lewe lekkerder vol.
Dit gebeur ook soms dat jy jou skielik op ’n ongemaklike plek bevind. ’n Stukkie niemandsland waar jy opeens vreemd tussen ou bekendes voel. Noudat jy tuisgekom het in jou eie vel, voel dit vir ’n wyle of jy nimmermeer gaan tuis voel tussen sekere familie, vriende of kollegas nie.
Dis ’n netelige sakie. Een waaroor nie baie geskryf, gepraat of gepreek word nie. Maar dis gewoon die ander kant van die groei-muntstuk en soos iemand se ouma altyd gesê het: “’n Gewaarskude mens tel vir twee”.
“Waarvan jy bewus is, kan jy beheer;
waarvan jy nie bewus is nie, beheer jóú.
As jy van iets bewus is, is jy daarvan bevry.”
-Anthony de Mello
Hier is drie bevrydende waarhede wat ek so oor die jare ontdek het. (Dis eintlik “dekades” en nie net “jare” nie, want wysheid kom mos maar saam met die grysheid.)
1. Jy mag by mense in jou lewe verbygroei.
Dis soos skoene wat vir jou te klein word en nie meer gemaklik pas nie. Dis regtig heeltemal anders as om te groot vir jou skoene te word! Dis ’n teken dat jy ontluik en ontwikkel het en dis iets om bly oor te wees.
2. Jy mag mense en situasies wat jy tot nou toe verduur en verdra het, ontgroei.
Selfkennis is noodsaaklik om die gebod van die liefde op jouself ook toe te pas. Soos wat ’n mens se selfliefde op ’n gesonde wyse tot wasdom kom, vermeerder jou begrip vir wat goed en gesond is.
Daarmee saam kry jy die selfvertroue om die moeilike werk te doen om die onkruid te verwyder sodat jy groots en suiwer kan groei. Dis mos hoekom jy hier is!
3. Jy mag verander en verskil van die persoon wat jy voorheen was en aan gewoond geraak het.
Om gemaklik in jou eie vel te wees, is nie ’n statiese hier-is-ek-nou-klaar-gegroei-toestand nie. Inteendeel, as jy eers gewoond is aan transformasie en om nuwe fasette van jou menswees te ontdek, word dit ’n herhalende gewoonte waaroor jy stil-tevrede kan wees, elke keer.
Maar eers moet ’n mens die proses aanvaar as deel van die ritme van die lewe. Jy moet daaraan gewoond raak om soms ’n vreemdeling of minder-bekende persoon in jou spieël te ontmoet, sonder om verbouereerd te word.
Hoekom dit goed en gesond is om mense te ontgroei
Voel dit steeds vir jou “verkeerd”, “selfsugtig” en “onvanpas vir ’n gelowige” om konneksies met jou naaste te verbreek? Dink aan onwettige elektrisiteitskonneksies. Dis gevaarlik en veroorsaak kragonderbrekings omdat hulle die stelsel oorlaai.
Om sekere mense te ontgroei is ’n natuurlike, gesonde en selfs noodsaaklike deel van ’n volkleur lewe. Dit beteken nie dat die betrokke verhouding ’n mislukking is nie. Dit beteken wel dat dit sy doel bereik het vir ’n sekere seisoen in jou lewe.
Soos wat ’n mens ouer word en transformeer saam met elke verwagte en onverwagte fase of tydperk, verander jou waardes, prioriteite en behoeftes. Hieroor hoef jy glad nie skaam of skuldig te voel nie. Dit werk so vir alle mense!
Die mense waarmee jy konneksies het (waaroor jy beheer het) moet dan ook in belyning met jou nuwe waardes, prioriteite en behoeftes wees. As iemand nie hierin kan deel nie, kan hulle jou groei stuit en letterlik vir jou ’n struikelblok wees.
Dis ’n bitter pil om te sluk dat jou nuwe “soet” grense vir party mense ’n doring in hul vlees is. Om ’n vloerlap of “people pleaser” se dienste te verloor, is vir hulle moeilik om te sluk. Maar jy moet jou skuldgevoel sluk en sterk staan in jou selfsorg.
Dieselfde is waar as jy agterkom dat jy by sekere mense ’n masker moet dra. Natuurlik moet ons almal ter wille van hoflikheid, algemene harmonie en produktiwiteit by die werk, in die klubs waaraan ons behoort, in kerkgroepe en so meer soms ons outentieke self ’n bietjie op die agtergrond skuif.
Maar as jy by die mense met wie jy naby-verhoudings het nie jou mooiste Geel, Rooi, Groen of Blou lig mag laat skyn nie, flikker die waarskuwingsligte. Geesvervulde mense wat aan hul swakpunte werk en hul sterkpunte gebruik om lig in die wêreld te bring, mag nie deur ander uitgedoof of gedemp word nie.
Die risiko’s as jy konneksies kunsmatig koester
As jy verhoudings wat wavragte energie benodig op ’n onnatuurlike wyse aan die gang probeer hou, dreineer jy jou eie energie. Gesprekke en ontmoetings voel geforseerd en maak jou dalk selfs ’n bietjie angstig.
Die konneksie word eensydig en daar ontstaan dikwels konflik – selfs al word dit wedersyds onderdruk. ’n Mens kan dikwels intuïtief aanvoel hoe die doofpot prut ... totdat dit eendag ontplof.
Stap eerder weg van hierdie onnodige drama en stres. Sodoende beskerm jy jou geestelike gesondheid. Jou gepaste en respekvolle “nee’s”, beteken dat jy meer energie het om aan jou geliefdes en naby konneksies te gee. Dan sê jy meer gereeld vir hulle “ja”.
’n Kalm gemoed sonder kinkels en knope help jou om op openhartige wyse konneksies te koester waarbinne jy en ander kan groei en julle beste self kan wees. Dit beteken dat afstand soms die beste geskenk is wat jy vir jouself en iemand anders kan gee.
Sodoende skep jy ook ruimte vir nuwe konneksies. Wie weet watter mense oor jou pad gaan kom noudat jy aanbeweeg het? Hulle gaan jou tyd en aandag nodig hê sodat julle konneksie kan ontwikkel in wedersydse vriendskap of samewerking.
Moenie jou “stelsel” of “netwerk” só oorlaai dat jy nie meer drakrag vir nuwe mense het nie! Dis beter om ’n paar ondersteunende konneksies te hê wat saam met jou in geloof “geaard” is, as om uit pligsgevoel ’n kraaines konneksies aan die gang te probeer hou.
Onthou, dit gaan nooit oor haat of vyandigheid nie. Dis gewoon ’n erkenning dat julle nou twee uiteenlopende paaie gaan stap.
“Mense kies verskillende paaie in hul soektog na vervulling en geluk.
Net omdat hulle nie op jou pad is nie, beteken nie dat hulle verdwaal het nie.”
-H. Jackson Brown, Jr.
BECOME A PREMIUM MEMBER
Our premium membership includes all of Lynette's latest content.