Terugblik Op November
Nov 28, 2025
Beste
Soms word selfs ek wat so baie praat, stil omdat die handelinge van die Here my verwonder en sprakeloos laat. Ken jy sulke dankbare, sielsalige gevoelens? Ek hoop van harte dat jy hiermee bekend is, want dan kan jy saam met my van goedheid en guns getuig.
Op 2 November 2025 was dit naamlik die eerste herdenking van die bekendstelling van my aanlyn platform. Kan jy glo ons is al ’n hele jaar aan die woel en wikkel in die digitale wêreld? Prys die Heer!
Dit was nie kinderspeletjies nie, hoor! Sommige dae het ek die liedjie, “Sewe sakke sout” tussen saamgeperste lippe geneurie ... Maar weet jy, al het hierdie besigheid-baba van my bietjie koliek gehad en al was daar groeipyne, is die uiteindelike “blessings” waaroor ek kan jubel soveel meer!
Jy wat nou hier lees, is een van die seëninge wat ek so een vir een tel. Jy is deel van die gawes deur God vir my geskenk wat my verbaas laat staan oor alles en almal wat Hy my gee.
Hoor jy ook nou in jou gedagtes die mooi lied wat ons omtrent almal in ons kinderjare geleer het? Kom tel dan saam met my nog seëninge wat ek saam met ander mense ontvang het en wat ons nou in die wêreld instuur:
- Ontwikkeling van Onderwysers om hulle volkleur roeping te (her)ontdek
In Kuilsrivier was ek by Laerskool Mikro wat deur die skrywer Christoffel Hermanus Kühn gestig is. Hy het onder die skuilnaam “Mikro” meer as honderd boeke geskryf. Die onderwysers van sy skool is op dieselfde makro-skaal passievol oor hulle taak.
By Die Hoërskool Wagpos in Brits – wat al 95 jaar oud is – was ek bewus van die waarde van tradisies gekombineer met die innovering van moderne kennis oor die brein en hoe mense “bedraad” is. Hulle het drie “bane”, naamlik Akademies, Tegnies en Landbou. Kan jy dink hoe bruis hulle groeikrag met so ’n variasie breinprofiele en temperamente?
- Ontwikkeling van Personeel om hoër te vlieg met insigte uit die Vierkleurtemperamentmodel
In die binneland het ek geblom saam met die mense wat die jaarlikse Bloemskou in Bloemfontein organiseer. As jy tussen 23 April en 2 Mei 2026 wil beleef hoe ’n mens ver van die see “Beach Party” hou, gaan maak ’n draai daar. En waardeer dan al die mense agter die skerms wat hierdie groot okkasie (met onder andere meer as 60 kosstalletjies) máák gebeur.
By ’n strandpartytjie hoort roomys en ... hoenderburgers! En dis waaraan ek in Kroonstad gedink het tydens ’n werkswinkel met die mense van CC Chickens. Hulle wy hulle daaraan toe om kwaliteit produkte te lewer en hulle verstaan dat ’n mens moet sorg dat jou span hoë kwaliteit personeel-opleiding kry.
My Vrystaatse vreugde was drievoudig, want in Bethal was ek vir die tweede keer by die mense van Burgers Mica. Hulle leuse is “Do it with Mica”, maar deesdae doen hulle ook die verkope van goed soos kragbore en hamers in volkleur!
- Groei in die krag van en vervulling deur die Heilige Gees
Ook gelowiges word weens die eise van die lewe afgemat en moeg. Ook kerkmense voel uitgeblus omdat hulle die kers aan twee kante moet brand ... In die NG Kerk Paardekraal-Monument in Krugersdorp het die banke vol gesit en ons het mekaar weer soos fenikse uit die as laat styg. Ons het koppe en harte bymekaargesit oor hoe om jou innerlike kragte te herwin sodat jy uitbranding kan voorkom of genees.
- Die laaste “Lynette Beer Live” vir 2025 wat op hoë note afgesluit het
Elke maand as ek so saam met jou terugkyk na die weke wat verby is, is daar ’n gebeurtenis waarvan ek dink: Dít was die hoogtepunt van my jaar. So, ekskuus as ek dit reeds in ’n vorige nuusbrief gesê het, maar hierdie optrede voor meer as 500 mense by NG Elarduspark is nou regtig die een waaroor ek my 2025-loflied sing ...
En ek doen dit letterlik, want die tema was “Niemand is jy nie en dit is jou Superkrag” en Rhona van Niekerk het met haar spesiale superkrag vir my ’n lied geskryf! Jy kan by hierdie skakel na “Volkleurlewe” luister: https://www.youtube.com/watch?v=jTgYr4S_wmM
Is dit nie FANTASTIES nie?
- Studievaardigheid-geskenke vir kinders
Laeveld Agrochem se meer as 2 000 landbouprodusente, verskaffers, agente en kliënte kuier al jare saam by die Afrikaans is Groot-musiekfees. In hulle tent was die tema hierdie jaar “Kersfees in November”. Ek het met gebed geopen en Franna Benadé was die seremoniemeester. Elke enkele kind wat in die tent besoek afgelê het, het ’n Leer in KLEUR-geskenkbewys gekry!
- Nuwe besigheidsgeleenthede en groter emosionele intelligensie vir kinders en ouers
Daar maak sowaar nog twee nuwe EQ4Kids-franchises oop! Een in Namibië en een in die Wes-Kaap. Welkom, welkom, Nita Coetzee ([email protected]) in Windhoek en Hannelie van der Walt ([email protected]) in Paarl. Mag julle sewevoudig in julle werk met die Here se kosbare kinders en hulle ouers geseën word.
- Groter insig in die Woord én hoe God met mense werk
Ken jy my boek met die titel Die vier kleure van die Bybel of het jy al my kursus getiteld, “Die Bybelkarakters en hulle temperamente” gedoen? Dan sal jy weet hoe dit ’n mens se verhouding met die Here verdiep as jy ontdek hoe Hy verskillende mense met verskillende kleurkombinasies in Sy koninkrykswerk gebruik het.
As jy dit nog nie ontdek het nie – vra gerus vir die lekker mense van die VEK Pretoria-Oos hoe inspirerend dit is om saam met my die Bybelse karakters se temperamente te verken. Waar gelowiges so bymekaarkom rondom die Woord, word ’n mens waarlik geestelik versterk.
En siedaar! Sewe supergroot sakke vol seën so saam met die paar sakkies sout ... Dankie, Here!
Mag jy ook altyd ’n volkleur-lied sing, al moet jy soms sug. Mag jy dit regkry om eerlik te wees oor die swaar in jou lewe, maar terselfdertyd nooit jou seëninge uit die oog verloor nie, sodat daar onwrikbare hoop in jou hart is.
Dankie dat jy saam met my die Here se seën na ander mense toe aangee deur saam te bid, saam te lees en saam geestelik te groei.
Groete met groot waardering vir jou heerlike teenwoordigheid op my platform
BECOME A PREMIUM MEMBER
Our premium membership includes all of Lynette's latest content.