Lynette's Blog

Post

Om liefde te saai waar daar haat is

Feb 25, 2026

As jy die liefde wil verstaan en jou eie uitleef hiervan wil verdiep, moet jy ook weet wat die teenoorgestelde daarvan is. Dit help ons om die saak behoorlik in konteks te plaas en die volle prentjie te sien.

 

Dit ondersteun ons om grense te skep waarbinne ons kan sê: “Dís die waarheid oor wat liefde IS, want dís wat dit NIE IS NIE.”

 

Wat is dan die teenoorgestelde van liefde?

Die eerste woord wat by my opkom, is “haat”. Dis my Afrikaanse juffrou wat my dit geleer het.

 

Toe ek nog op laerskool was, moes ons lang lyste met antonieme uit ons koppe leer. Ons het dit soos ’n spreekkoor hardop gesê en die onderwyser het met ’n lat tussen ons geloop om ons op ons tone te hou.

 

Ek hoor nou nog die temerige stemme en kry sommer rillings: “Hoog, laag ... Sterk, swak ... Gesond, siek ... Lank, kort ... Mooi, lelik ... Reg, verkeerd ... Groot, klein ... Liefde, haat ...”

 

Sedertdien het daar baie water in die see van my lewe geloop en ek het ander stemme gehoor en gelees. Deesdae glo mense soos sielkundiges dat ons eerder “vrees” as die teenoorgestelde van liefde moet sien.

 

Die liefde maak jou openhartig en verbind jou aan mense. Vrees maak jou geslote, laat jou onttrek, verbreek en verhinder konneksies. Die liefde maak bande tussen mense gesond en bou vertroue. Vrees skep wantroue en skeiding.

 

1 Johannes 4 stem hiermee saam en verklaar dat waar daar nog vrees is, dáár nie liefde kan wees nie. Maar waar pas die sterk en reële emosie van haat wat ons almal so goed ken dan in?

 

Hoekom het haat soveel mag en verwoes dit soveel lewens?

As liefde vreedsaam, verdraagsaam en vergewend is, is haat woedend, wraaksugtig en gewelddadig. Dis egter net die uiterlike, sigbare manifestasies. Innerlik, aan die wortel van die optredes is daar donker onderstromings.

 

Ons kan die verwoestende impak sien: aanrandings, saakbeskadiging, gevloek en geskel, ontneming van regte ... Ons vrees dit en kyk daarom net bolangs en na hoe ons onsself hierteen kan beskerm.

 

Maar ware beskerming is eerder om haat te stop – en dis hoekom ons dit moet verstaan. Dis hoekom ons dit vierkantig in die oë moet kyk sodat ons met liefde kan hande vat sonder om in ’n dowwe spieël te kyk.

 

Hoekom voel ons as mense haat? Omdat ons bang is. Ons is bang ons gaan te nagekom word, gaan ons werk, geld, status of voorregte verloor. Ons is bang iemand gaan nog meer by ons wegneem nadat hulle ons verkul of in die rug gesteek het.

 

Ek dink ons haat, want ons vertrou nie die Here vir geregtigheid en beskerming nie. Ons wil in beheer wees, self wraak neem, self dinge bestuur vir ons eie beswil.

 

Ons is bang die oortreder gaan wegkom met wat hulle ons aangedoen het. Ons is diep bekommerd ’n vermeende teenstander gaan ons platloop sonder om gekeer te word.

 

Die kenners is reg – ten diepste is haat gewortel in vrees

Die teenoorgestelde van liefde is dus inderdaad vrees. Vrees vir wat anders is, vrees vir mense wat nie ons eendersheid bevestig nie. “Jy is anders en ongewoon, vreemdsoortig en onbekend – wat maak dit my?”

 

Haat is om bang te wees vir jou kwesbaarheid. Dis om angstig te wees daaroor dat jy skaam gemaak sal word oor jou diepste gevoelens en gedagtes. Haat is die kommer om beheer te verloor oor jou eie lewe en oor die mense om jou.

 

Haat is die herinnering aan hoe iemand jou seergemaak het en jou grense só platgevee het dat jy nou minderwaardig voel. Haat word die muur waarmee ons onsself toebou omdat ons mense wantrou weens hierdie haatlike persoon of groep.

 

Om op te hou vrees, kies ons om eerder te haat. Ons verhard eerder ons harte inplaas daarvan om dit sag, geduldig en vergewensgesind te maak. Ons druk die ore van ons gees toe vir die fluisteringe van die Gees en luister na die geweldskrete van die wêreld.

 

Natuurlik ontken ons wanneer ons haat dat daar vrese in ons is. As jy vir jou haat sou vra: “Waarvoor is jy so bang?” sal dit weier om te antwoord. Trouens dit sal nie eers twee keer hieroor nadink nie.

 

Die krag van haat waaroor ons eerlik moet wees

Haat gee ons ’n valse idee van mag en beheer. Dit weerstaan groei en verandering. Dit soek kliphard na ondersteuning en bevestiging dat dit reg is. En kry dit ook. By mense, op die internet, op sosiale media.

 

Jy sal altyd iemand vind wat net so haat soos jy. Dan is jy tog te lekker reg, maar jou verhoudings is stukkend. Al jou verhoudings loop skeef – met God, jouself en ander mense.

 

Haat se siek krag neem jou optrede oor en maak dit negatief, want dit plaas alle blaam op iemand anders se skouers. Jy kan jou eie skouers ophaal en jou hande soos Pilatus was, want dis alles iemand anders se skuld dat jy nou moet haat.

 

“Hulle is die probleem. Hulle is die rede. Natuurlik moet ek hulle haat! Hulle verdien om gehaat te word!”

 

Dis dán dat die gevolge van haat in ons eie lewens insluip soos ’n brullende leeu of ’n klein jakkalsie. Of dit op groot of klein skaal is, die uitkoms is dieselfde: verwoesting.

 

Iets in jou word al hoe meer leeg, al hoe meer uitgehol in plaas van vol en vervuld. Die gat in jou hart laat jou na nog meer haat hunker. Hoe meer onvergenoegd en ontevrede jy voel, hoe meer haat jy. Die holte in jou binneste word skrikwekkend.

 

Wat kan ’n mens dan doen om op te hou haat?

Ongelukkig is daar nie ondersteuningsgroepe of opleidingskursusse vir haters nie. Dalk kan terapie vir woede help ... Maar ons móét ’n manier vind om die haat te keer, ons móét keer dat ons vanuit ons haat verwoesting met ons woorde en dade versprei.

 

Is daar haat in jou hart? Iets wat witwarm gloei terwyl ander mense die liefde op Valentynsdag of ander spesiale dae vier? Asseblief, asseblief:

 

  • Identifiseer die bron: Vra jouself hoekom jy so voel. Verwoord die onderliggende vrees, trauma of gevoel van magteloosheid. Skryf hieroor in jou joernaal, bid hieroor – en gaan praat met iemand.
  • Leef bewus: Let op wanneer presies jy hatig voel. Vat die gedagtes vas, lees iets positief soos ’n Bybelvers, luister na ’n spesifieke lied of gaan stap ’n draai. As jy dit nie in geselskap kan doen nie, sorg dat jy ’n frase het wat jy in jou kop kan herhaal en haal byvoorbeeld ’n paar keer diep asem.
  • Fokus op vergifnis en empatie: Jy gaan nie lus wees nie, maar dwing jouself. Begin klein. Al lees jy net een paragraaf in ’n boek of op ’n webblad, al kyk jy net 3 minute na ’n video hieroor. Om ’n saak vanuit iemand anders se perspektief te benader, te verstaan, te aanvaar, beteken nie dat jy enigiets goedkeur nie. Om te vergewe bevry jóú van die las van haatgevoelens.
  • Stel grense en behou afstand: Beskerm jouself en vergroot jou kennis oor hoe jy dit kan doen vanuit die gesonde beginsel van selfliefde. Jy doen dit nie uit wraak of om iemand te straf of te probeer verander nie.
  • Kry ondersteuning: Praat met ’n terapeut, vriend of leraar. Praat met die Here. Ondersoek jou gevoel, gee dit ’n naam. Skryf in jou joernaal en wys jou inskrywings vir ’n sielkundige of berader as jy dink dit kan van waarde wees.

 

Wees dapper genoeg om jou haat te ondersoek. Torring die knope los wat jou so vasbind. Vra hulp! Jy is net ’n mens. Gee ander die voorreg om jou te ondersteun, sodat die liefde jou weer verlig, vry en volkleur kan maak.

BECOME A PREMIUM MEMBER 

Our premium membership includes all of Lynette's latest content. 

Let's do it!