Onthou saam met Lynette hoekom ons sterk staan in hoop - Maart
Apr 22, 2026
’n Hartlike HALLO aan al my lede
Vandag het ’n ek behoefte daaraan om sommer net lekker informeel met jou te gesels en my stories so uit die vuis uit met jou te deel. Ek hoop dis in orde met jou dat ek nie ordelike opskrifte en tematiese verdelings het nie?
Kry vir jou iets lekker om te drink en hier gaan ons ...
Voel dit vir jou ook of ons oorlewing bedreig word as jy na die nuus kyk en luister? Die realiteit van oorlog het gedurende Maart al hoe meer in ons huise (en beursies!) ingesypel.
En jy weet mos, as slegte ekonomiese nuus by die voordeur inkom, draf ons hoop en moed by die agterdeur uit. Maar, liewe Mense, dis juis vir ’n tyd soos hierdie wat die Here ons hier geplaas het! Ons kan steeds as volkleur mense sterk staan in ons besigheid, werk en persoonlike lewe.
Het jy my brokkies raad vir meer innerlike vrede by die werk, op die proef gestel? Dis in my potgooi met die titel, “Lewenslesse van introverte vir meer sukses by die werk”.
Van hierdie dinge wat so op stokperdjies en “niksdoen” gefokus is, was vir my ook maar half vreemd. Maar ek implementeer hulle en as daar een ding is wat ek deesdae al hoe meer aan my eie lyf beleef, is dat ek my liggaam nie kan ignoreer in enigiets wat ek doen nie!
Luister daarom na my nuutste potgooi met die titel “Luister na jou liggaam vir geestelike groei”. ’n Mens dink jou lyf sal maar so vanselfsprekend volg wat jy geestelik doen en saam met jou groei.
En dit is inderdaad so ... Maar die teenoorgestelde is ook waar: Ons liggame as die tempel van God gee vir ons subtiele boodskappe wanneer dit tyd is om na ons algemene welstand om te sien.
Nou ja, in Maartmaand het my welstand ’n hupstootjie gekry in die vorm van ’n snoekbroek wat tog te netjies pas! Ja, sowaar!
Eintlik moet ek my nuwe “fishy” kledingstuk met hoofletters spel, want Classy Snoekbroek is die handelsmerk van ’n gemeenskapsdiensprojek aan die Weskus. Hulle glo in meer as net die maak van kwaliteit klere. Hulle glo veral daarin om mense vaardighede te leer en waardigheid deur werksgeleenthede te skenk.
Ek was aan die woeker in die Weskus omdat ek ’n oggendfunksie by NG Kerk Velddrif gehad het. Kyk, die see se water mag miskien sout wees, maar die mense van daardie omgewing is waarlik die sout van die aarde!
Maar ek loop nou my storie vooruit ... Eers was ek by Laerskool Baanbreker in Boksburg. Dis nou mense na my hart, want hulle leuse is “Ons wil, ons kan, ons sal”.
Toe skiet ek deur Weskus toe en van daar is ek na ou vrinne van my waar ek gereeld kom, naamlik die personeel van Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen. (As jy jou Aardrykskunde ken, sal jy verstaan hoekom ek verstaan dat ons Here se genade so WYD lê as wat die noordelike provinsies van die suidelikes verwyder is.)
My tas was volgepak met lieflike klere van my borg, Rosella. Hulle bestaan al sedert 1986 en het ’n reusagtige aanlyn winkel en tien regte-egte boetieks. Hulle is mode-mense wat wéét hoe om ’n vrou mooi te laat lyk in alle seisoene. Ek was daarom besonder gemotiveerd om oor die tema “Motivated for a new season” te praat.
Maar ’n mens kan nie net mooi lyk nie, jy moet slim wees ook (tik ek nou tong-in-die-kies). By Sunward Christian Academy in Boksburg het ek oor “’n Lewe van sukses en ’n gees van uitnemendheid” gepraat.
Dis daardie ingesteldheid wat ek met my saamgeneem het toe ek weer die voorreg gehad het om aan kykNET se tweede oudste kuier- en sakeprogram, ontbytSAKE, deel te neem. Jy kan hulle op DStv Kanaal 144 en 145 vind.
Die onderwerp van ons gesprek was: “Agter elke plaas is daar mense. As ons die mense gesond hou, beskerm ons die toekoms van die boerdery”. Natuurlik het ek my vier kleure met entoesiasme hier bespreek sodat die oeste ryp kan staan op die lande!
Voelgoed Media se EkwilEkkanEksal-konferensie het nie meer bekendstelling nodig nie. Hierdie jaar was die tema “Wat maak volgende saak”. Ek en ander sprekers het op persoonlike en professionele groei, veerkragtigheid en om drome te verwesenlik, gefokus.
Iemand wat my daar besonder geïnspireer het kragtens die tema van kommunikasie, is die motiveringspreker en konsultant, GP van der Rheede. Hy het ’n ingesteldheid van “ek wen as ander wen” in sy eie benadering tot besigheid doen en dit práát met my hart.
Maar ek moes my hart ook op boerdery ingestel hou, want ek was by Rosaly Farms in die Wesrand. Dis ’n familieboerdery wat in verskeie groentesoorte spesialiseer. Hulle het my nie net gedwing om seker te maak daar is genoeg kleure op my bord nie, ek moes ook gaan lees en leer oor “Tydsbesteding in boerdery”.
Nou kyk, van tydsbestuur en dies meer in die korporatiewe wêreld en in besighede weet ek baie. Maar hoe dit nou met plase verband hou, was ’n verrykende ontdekkingsreis en ek het baie kennis bygekry. (’n Mens is nooit te oud om te leer nie – eet jou groente!)
Hiervandaan is ek weer suidwaarts na die mooie Kaap. Ek het letterlik van skool tot skool gehuppel soos wat ons mekaar moed ingepraat het om aan te hou hoop, terwyl ek op personeel- en leerder-ontwikkeling gefokus het:
Laerskool Swellendam: ’n Plek waar kinders floreer, waardes geleef word, en tradisie hand aan hand loop met ’n toekomsgerigte uitkyk. Hier, in die hart van hul gemeenskap, draf kaalvoetkinders, met stof aan hul tone en drome in hul oë.
Laerskool Stellenbosch: Die sleutel tot hulle sukses lê opgesluit in hul leuse: VANDAG MY PLIG. Hulle streef na uitnemendheid op alle terreine van skoolaktiwiteite om gebalanseerde leerders vir die samelewing te ontwikkel.
Laerskool Aristea in Kraaifontein: Hulle is net ’n bietjie jonger as ek! Hulle glo in uitstekende “kliëntediens” aan hul leerders en ouers. En soos die gelyknamige blou blommetjie in Grieks “uitstekend” beteken, is hulle leuse “Excellentior”.
Laerskool Mikro in Kuilsrivier: As jy nou déjà-vu kry, is jy heeltemal reg. Ek was al daar. Dis die skool wat na die groot Afrikaanse skrywer van my jongmensdae vernoem is. Hulle glo dat ’n mens op makro-skaal moet groei.
Capitec Bank: In Durbanville het ek 250 afgevaardigdes van die grootste (op grond van kliëntebasis) kommersiële Suid-Afrikaanse bank toegespreek.
Maar van werk en brood alleen kan ek nie leef nie ... Ek het tussendeur my Geel tenkie vol gemaak met allerhande prettige kuiertjies met my familie, ’n mark in Franschhoek en meer as net ’n “paar” pannekoeke.
Terug in Pretoria, was ek weer by Bossa Restaurant in Castle Walk. Op Dinsdagoggende kom ’n groep vroue hier byeen vir ’n uur se samesyn. Dit was my tweede geleentheid om te praat en die tema was hierdie keer “Goud onder die stof”.
En om die Kaapse pannekoeke in balans te hou, speel ek deesdae elke Dinsdag Pickleball. Ek weet nie wat die Afrikaanse naam is nie, maar pekelbal klink vir my te suur. Dis eintlik amper net so lekker soos pannekoek!
Dis ’n lae-impak sport wat elemente van tennis, pluimbal en tafeltennis kombineer. Dis geskik vir alle ouderdomme en strategie is belangriker as brute krag. Perfek dus vir my!
Dit verbeter boonop ’n mens se kardiovaskulêre gesondheid en jou balans. En dit laat jou konneksies met mense groei en floreer omdat dit doodgewoon vet pret is.
Wat jy ook al doen om jou bande met jou mense gesond en hoopvol te hou, mag die Here jou hierin seën. Mag jy so baie groente met so baie liefde eet dat jy nie net self kan sterk staan nie, maar dat jy ook daarvan met ’n oop hand kan uitdeel sodat jou gemeenskap kan sterk staan.
(Vir meer inspirasie hieroor, luister na my Oppi-Bank-gesprek met Annemarie van Heerden van Helpende Hand met die titel “Maak hoop ’n volkleur aksie in jou huis en werksplek”.)
Sterk-staan-groete met waardering vir jou bydrae om my platform uit te bou
BECOME A PREMIUM MEMBER
Our premium membership includes all of Lynette's latest content.