Sê saam met Lynette dankie
Jun 03, 2026
’n Winterwarm HALLO aan al my lede
Hoeveel dankbaarheid is daar vandag in jou hart?
As ek so in my gedagtes terugblaai en in my dagboek na al my afsprake in Mei kyk, voel ek soos Josh Tatofi. Hy sê:
“I thank the Lord Almighty for guiding me ...
for the blessings and the lessons.
I’m grateful for the incredible journey,
for the people who’ve walked alongside me,
and for the memories we've created together.”
Met die winter wat op hardhandige wyse in die Kaap sy voet kom neersit het en met die koue wat oraloor hier is om te bly (vir ’n paar maande), maak dit my hart warm om dankie te sê en te onthou:
- Waar vroue (en mans!) bymekaarkom rondom die Woord, kry hulle krag
Ek kon drie keer by Bossa in Castle Walk wees! Ons is nou meer as 80 wat saam boeretroos met ’n Italiaanse naam drink en dan die troos van die Water van die Lewe vir mekaar aangee.
As jy kan, kom val by ons in teen 7:30 vir 8:00. Ek praat ’n halfuur en die kuier kan aanhou tot ná 9:00 soos wat mense lus is.
Maar omdat ek weet nie almal kan in Erasmuskloof uitkom nie, reis ek ook na ander koffiewinkels. So was ek in Mei by Emmakolema CAFE in Groblersdal. Die tema was “Is jy ’n koppie of ’n bal?”. Ek belowe ek het net een van my eie koppies gebreek terwyl ek die beginsel van veerkragtigheid bespreek het!
- Waar mans (en vroue!) gholf speel, kry gemeenskapsdiens fondse
Einste Bossa Castle Walk se Charity Golf Day het weer (gholf)sakke vol geld ingesamel vir Tshwane Haven (Tshwane Place of safety Association), Orthocross Amputee Foundation, DBV Tshwane (Dierebeskermingsvereniging) en adasa (The Association for Dementia and Alzheimer’s of South Africa).
Lynette Beer Media het ’n stalletjie op die lowergroen gras van die stylvolle Wingate Park Country Club gehad. Ek was ook die seremoniemeester by die prysuitdeling.
Op 4 Junie slaan ons af op groot skaal by Blair Atholl Golf and Equestrian Estate, ten bate van Seedlings, my eie gemeenskapsdiensbeen. Die fondse van hierdie lekker dag gaan onder andere na Careson Angels (Pretoria Wes), Hamba Nawe Project (Steve Biko Hospitaal) en Tshwane Haven.
- Waar kollegas in spanne saam leer, floreer ’n besigheid
Grootfm 90.5 se Bloudruk-span sorg al vir jare vir “great content” en ’n besigheid wat floreer. Dit was daarom vir ’n my ’n prettige voorreg om twee keer saam met hierdie uitmuntende meer-Geel-as-Blou-mense hul sukses na ’n volgende volkleur-vlak te neem.
Resolve Corporate Services in Kemptonpark help ander besighede om te groei, deur hulle van maatskappy-sekretariële en korporatiewe advies te voorsien. In my halfdag-werkswinkel het ons op verbeterde kommunikasie en onderlinge begrip gefokus. Dit sal die span help om effektiewer saam te werk en hul menslike vaardighede binne die korporatiewe omgewing te ontwikkel.
By b.wellness se stylvolle kantore het ons bemarkingsvideo’s gaan skiet. Hulle is een van my borge, maar hulle is ook soveel meer as dit. Hulle kombineer wetenskaplike kennis met empatie om vroue te help om hulle gesondheidsuitdagings te oorwin.
So buitengewoon! Hoeveel besighede ken jy wat “empatie” een van hulle strategiese sterkpunte maak? Ek glo dis hoe mense verskil kan maak én ’n besigheid gesond hou.
Kgona Investments in Witbank is só ’n besigheid wat glo in die ontwikkeling van hul mense. Hulle fokus in hulle werk op die bou, ontwikkel en bestuur van eiendomme en infrastruktuur. Hiervoor benodig hulle werknemers wat self ook transformeer en groei, en hierin kon ek ’n bydrae lewer.
- Waar mense moeders as rolmodelle het, kom daar heling
Met piekniekmandjies en komberse kom die ma’s en dogters van Laerskool Monumentpark jaarliks voor Moedersdag bymekaar om te bevestig hoe belangrik ons moeders is. Dit was ’n uitsonderlike voorreg om hierdie jaar die spreker by hierdie warmhartige samekoms te gewees het.
Ek self doen soveel dinge vandag nog soos my ma dit vir my geleer het en ek onthou haar met soveel waardering ... Wat is die voorbeeld wat jy vir mense stel wat van omgee en sorg getuig? Waarvoor gaan iemand in die toekoms dankie sê soos wat hulle jou onthou?
- Waar vroue saam lag (en huil) voel almal góéd
Saam fliek toe gaan in ’n teater, spesiaal aantrek en springmielies eet, bly maar ’n lekker uitstappie! Daarom was ek weer by Voelgoed Media se #Girls-Fliekaand in pajamas wat jaarliks oor die hele land plaasvind.
Kan jy glo? Hierdie jaar was die aanvraag so groot dat daar in Pretoria selfs twéé aande gereël moes word.
Ek het my weer verkneukel om die verskillende temperamente dop te hou. Ek vermoed dat die vroue wat regtig die dialoog van The Devil Wears Prada 2 gevolg het, Blou is. Daar was vir seker ook ’n hele paar Groenes wat noodgedwonge saamgekom het en toe tóg die aand met oorgawe geniet het.
Jy sien, sulke geleenthede vol wysheid, humor, inspirasie en lekker saam kuier, maak ons energie-tenkies vol. Dan het ons meer krag om vir mekaar om te gee en kan ons mekaar ondersteun om doelwitte te bereik.
Só was ek deel van ’n kuiergeleentheid by NG Kerk Suikerbosrand om fondse in te samel vir AcroKinetix Heidelberg se Disney Dansgroep wat in Julie Amerika toe reis om aan die Disney World Wêrelddanskompetisie deel te neem.
En in Hoedspruit het ek saam met die dames van die AP Kerk gefokus op hoofbedekkings, soos die naam van hulle dorp mos sê. Maar ons het dit op ’n elegante en indrukwekkende wyse gedoen, want die tema was “Kroon van kleur”.
Die tafels het met mekaar gekompeteer vir pryse kragtens hoe hulle volgens die tema gedek was en hoe “tematies” die gaste aangetrek was. Die grootste uitdaging, so lyk dit vir my, was om die tema én die eet- en drinkgoed én die eetgerei op één tafel ingepas te kry ... Voel amper of daar ’n lewensles hierin opgesluit lê ...
- Waar gesinne die Here dien, kan verhoudings sterk en gesond wees
Vir die eerste keer het ek en twee medewerkers by ’n kerk wat gesinne vir ’n geleentheid saamgetrek het, met ouers en kinders gelyktydig gewerk. By Pierre van Ryneveld Geloofsfamilie het ek met die ouers gepraat en Nadia Scrooby en Janke Botha het met die tieners en jonger kinders onderskeidelik werkswinkels gedoen.
ERC (eMalahleni Revival Church) in Witbank se missie is om ’n geloofsfamilie te wees waar enigiemand welkom en aanvaar voel. Ek is dol oor hulle mooi kerkgebou en hulle ontstaansgeskiedenis! Dit was my voorreg om oor “veerkragtigheid” te preek, want dit is een van die gawes wat ’n kerk benodig om ’n ruimte te bly waar mense ’n geestelike tuiste vind.
- Waar skole in emosionele intelligensie belê, blom die hele gemeenskap
Gaan vra maar vir Laerskool Eugene N Marais in Mookgophong! Hulle stylvolle funksie het by ’n lodge, Trados Bush Camp plaasgevind. Toe voel dit meer soos pret en minder soos werk!
Die fokus was op gesinne. Hierdie skool verstaan hoe belangrik dit is dat die ouers en kinders in hulle gemeenskap mekaar beter verstaan en op ’n volkleur-manier hanteer.
Laerskool Mikro in Kuilsrivier ag ook die waarde van hul personeel ontwikkeling so hoog dat ek my derde besoek daar afgelê het! En vir die eerste keer was ek by St Michael’s School for Girls in Bloemfontein.
Hulle visie is die ontwikkeling van onafhanklike, vaardige en selfversekerde jong vroue wat in staat is gelukkige en vervulde lewens te lei, en om ’n konstruktiewe bydrae tot Suid-Afrika en die wêreld te lewer. Jy kan jou seker indink hoe betekenisvol dit vir my was om in hierdie visie in te praat ...
Skole en onderwysers kan egter nie die werk alleen doen nie! Daarom is ek dankbaar en bly oor die EQ4Kids South Coast-franchise wat amptelik aan die Suidkus afgeskop het. Ouers, onderwysers en ander persone wat passievol is oor die emosionele intelligensie van kinders, het dit by The Notebook Hotel in Umtentweni na behore gevier.
“Gratitude is a powerful catalyst for happiness.
It’s the spark that lights a fire of joy in your soul.”
-Amy Collette
Ek sê vir almal voor wie ek mag optree én vir jou as lid van my aanlyn platform: “Dankie, dat jy my energie-tenkie vol maak sodat ek my roeping kan uitleef.” Mag jou eie dankbaarheidslysie lank wees en jou vreugdevure hoog brand!
Volkleurgroete
BECOME A PREMIUM MEMBER
Our premium membership includes all of Lynette's latest content.