Lynette's Blog

Post

Sit dit af, sit dit af!

Nov 28, 2025

In die jare toe Johannes Kerkorrel (Ralph Rabie) se musiek rebelse jongmense aangevuur het en sommige ouderlinge beswaard gemaak het, het ek met my eerste werk begin. In ’n kerk met ’n orrel. In my bruin Passat het ek sy musiek nie gespeel nie.

Tog is dit een van Kerkorrel se liedjies wat by my opkom as ek leeswerk doen om myself voor te berei vir optredes oor die impak van selfone op jonk en oud. As jy die lirieke lees, die konteks van die geskiedenis en die kru taal ’n oomblik tersyde stel, sal jy dalk verstaan hoekom:

 

“Die ander dag toe voel ek lam
Ek wou ’n klein bietjie ontspan
En ’n boer maak ’n plan
Ek sit my TV-set toe aan
Jy sal nie glo wat ek sien
Op my TV screen 

Dit was ’n nare gesig
Dit het my heeltemal ontwrig ...

Sit dit af, sit dit af (Sit dit af, sit dit af)
Sit dit af, sit dit af (Sit dit af, sit dit af)
Sit dit af, sit dit af (Sit dit af, sit dit af)
Want dis ’n helse straf ...”

 

Dit spyt my dat hierdie kunstenaar te jonk gesterf het en ek leen sy woorde met respek en deemoed. Hy het ’n gans ander boodskap met hierdie lied gehad en was afgesit deur heeltemal ander kwessies as dit waarmee my gedagtes besig is.

Hoekom hierdie lirieke?

Dis hierdie woorde wat by my opkom as ek sien hoe ons ontspan as ons moeg en lam is. Ons werk heeldag voor skerms en rus dan ook nog met skerms in ons hande. Vir ons breine is dit ’n nare gesig wat ons op soveel maniere ontwrig.

Dis ’n straf op ons welsyn wat ver van God se plan vir ons verwyderd is. En ja, ons moet dit by geleentheid, maar meer kere as wat ons dink, afsit, afskakel en neersit.

(Dis so ironies dat jy hierdie gedagtes van my in blog-formaat op my aanlyn platform net kan lees omdat jy ’n skerm aangeskakel het!) 

Hoekom is skerms, oftewel tegnologie, iets wat jy doelgerig en planmatig moet bestuur kragtens aanskakel en afskakel? Doodgewoon omdat dit jou brein op aandag laat staan en jy dan nie na behore kan rus soos wat nodig vir jou algemene gesondheid is nie.

Jou selfoon, jou tablet, jou slim TV, jou rekenaar, noem maar op, stimuleer jou sintuie, maar veral jou brein op ’n oormatige manier waarvoor dit nie gebou is nie. Dit versteur jou vermoë om te fokus en konsentreer en maak jou minder kreatief.

Omdat tegnologie jou brein se manier om idees teen mekaar op te weeg en te analiseer voordat dit in die geheue gestoor word omseil, word jy oorweldig. Jy stoor al hoe minder inligting in jou langtermyngeheue.

Dít verminder jou vermoë om kalm en beredeneerd probleme op te los en die stres van die lewe te hanteer. Intussen word jou negatiewe emosies soos verontwaardiging, woede, vrees en jaloesie gedurig geaktiveer.

Soek na die Lig

As jy nie self doelbewus opbouende, positiewe inhoud op ’n platform van Lig opsoek nie, voer die algoritme jou met inhoud waarmee geld verdien word. Navorsing bewys dit oor en oor: Die negatiewe word meer besigtig en ge-“like” as die positiewe.

Dis die platform van duisternis wat winsgewend is. Dís die tipe inhoud wat deur die mense in beheer van die algoritme bevorder word. Hierdie tipe inligting wat te veel, te vinnig, te maklik in ons kop kom lê, maak ons angstig.

Ons verwag boonop dat alles in die lewe so blitsig soos op ons skerms moet gebeur – wat gewoon nie moontlik is nie. Ons beleef dan tesame met die voortdurende, ongedefinieerde gevoel van bedreiging ook ’n amper-konstante gevoel van ontevredenheid.

Hierdie vae gevoelens probeer ons teenwerk met die plesierige, daadwerklike verhoging in ons dopamienvlakke wat ons skerms ons gee en waaraan ons almal deesdae verslaaf is. Ja, verslaaf! Ja, ons almal!

Om ’n boek te lees, ’n simfonie te luister, gras te sny of onder ’n boom met vriende te kuier, verhoog ook die chemikalieë en hormone in jou wat sorg vir ’n gevoel van konneksie en dis-lekker-om-te-lewe. Maar dit gebeur stadiger as wanneer jy “scroll”, digitale speletjies speel, sosiale media deurgaan, kort video’s kyk, ’n reeks programme “binge watch”, ensovoorts.

Ons weet te veel van die blink kant wat (kunsmatig) deur ander mense voorgehou word en kan nie meer so maklik ophou om die vergelykingspeletjie te speel nie. In dié onregverdige, onnodige spel is ons meestal die verloorder wat minderwaardig en nutteloos voel.

Ons weet te veel van die gruwels oraloor die wêreld en kan nie anders as om bekommerd en bang te wees nie. Of ons gee vroegtydig moed op en hou op om te veg vir geregtigheid en armoedeverligting in ons klein hoekie, want ons voel die nood op die ganse planeet is net te groot.

Klik van nou af anders

Dit alles hou ons brein oormatig aktief, konstant gefokus op veg of vlug. Dit word ’n stryd om by geleentheid af te skakel om te herstel, te ontspan en te rus.

Ons dink ons kom tot rus deur iets plesierig met ons toestelle te doen wat dan saam met ons nooit afgeskakel word nie. Eintlik versteur ons sodoende ons slaapsiklusse én ons gemeenskaplike saamwees met mense van vlees en bloed in die regte-egte hier en nou.

Ná ses dae van werk het die Skepper van hemel en aarde gerus. Die mens, wat op die sesde dag gemaak is, se eerste dag in die tuin was dus ’n rusdag. Maar ons, Sy skepsels in die 21ste eeu, het hierdie ritme verruil vir nooit-tot-rus-kom-nie.

Kom weer in pas deur die druk van die sit-dit-af-knoppies! Klik gedissiplineerd en planmatig op “shut down” en “restart” jou per-geleentheid-skermlose rustye. Want dis ’n hemelse gawe.

BECOME A PREMIUM MEMBER 

Our premium membership includes all of Lynette's latest content. 

Let's do it!