Lynette's Blog

Post

Spieëltjie, spieëltjie, sê vir my ...

Oct 30, 2025

Ken jy die gedeelte in Jakobus 1:19-27 waar die verskil tussen ’n hoorder en ’n doener verduidelik word? In verse 23 en 24 skryf Jakobus oor ’n man wat homself in ’n spieël sien, wegstap en vergeet hoe sy gesig gelyk het.

Dit laat my elke keer ’n bietjie lag. Nie met disrespek vir die boodskap van die gedeelte nie, maar vir die prentjie in my verbeelding. Jy sien, ek kyk altyd baie deeglik na myself in spieëls of foto’s om te sien hoe ek lyk. En ek vergeet niks nie!

Hoe ’n mens lyk is immers tog belangrik!

Die refleksie in ’n spieël (of ’n foto op een van my digitale toestelle), wys vir my hoe ek vir ander mense lyk. Omdat ek so baie optree, op die omslae van my boeke is en in video’s my boodskappe uitsaai, let ek keurig op na my voorkoms. 

Miskien as ek eendag 100 jaar oud is en heeldag op ’n stoep sit sonder enige openbare optredes, sal ek ook begin vergeet hoe my refleksie lyk. Maar nou kan ek nie – ek moet professioneel, goed versorg en gesond lyk sodat ek met selfvertroue kan optree.

Dis belangrik dat my uiterlike voorkoms klop met my boodskappe oor hoe ’n mens jou verhouding met die Here, jouself en ander mense gesond hou. My inspeksies van my refleksies kan daarom nie lukraak en agterlosig wees nie.

Maar ja, soos baie vroue trap ek in die slaggat om baie krities te wees op myself. Dan wens ek partykeer ek kan soos die man in Jakobus 1 net lekker vergeet van ’n plooi, hare wat uit plek is of ’n bultjie wat my oog getref het.

Hoekom is dit so dat as ’n mens jouself gereeld ondersoek en groei in selfkennis, dan kom jy vry, maar as jy jou spieëlbeeld ondersoek, word jy vasgevang in selfkritiek? Hoe meer ’n mens jou innerlike leer ken – soos wat die Here jou gemaak het – hoe groter word jou selfaanvaarding en selfliefde. Hoekom nie ook met die uiterlike nie?

Het jy die persoon in die spieël lief?

Bobby van Jaarsveld sing ’n lied oor spieëls. Die persoon aan die woord in die lirieke verwys na dinge wat pla, hoe dit is om skaam te kry, dinge wat verander, die wêreld wat krities is en antwoorde wat ontwykend bly.

Soos ek die woorde verstaan, verwys hierdie lied na ’n dieper kyk, nie net die uiterlike nie. Ek is gemaklik met so ’n dieper kyk. Dit het my lank geneem, maar dis waar ek die hand van my Skepper raaksien en waar ek loskom van selfverwyt en skuldig voel. 

Foutloos is ek beslis nie! My swakpunte ken ek. Glo my, die Heilige Gees praat soms hard met my. Berou moet ek dikwels toon en dan by die Here en mense om vergifnis vra.

Maar dis of ek deernis met myself kan hê hierin, genadig en geduldig kan wees met my struikelinge – al erken ek hulle ruiterlik. Hoekom dan nie ook met die onvolmaakte refleksie in ’n vollengte spieël of reeks foto’s nie?

Al die antwoorde op hoekom so baie mense ontevrede met hul voorkoms is, het ek nie. Dat ons dit aanleer en (onbewuste) keuses hieroor maak, vermoed ek met redelike sekerheid.

Hoe ’n mens dink jy lyk is die produk van programmering

Om oor my geprogrammeerde ingesteldheid refleksie te doen, verander nie my prioriteite aangaande my selfversorging nie. Ek staan by my keuses oor gesond eet, gereeld oefen, professionele haarsorg, die gebruik van aanvullings, dra van stylvolle klere en juwele, keurige velsorg en grimering, en gereelde mediese ondersoeke.

My fokus en toewyding aan hierdie dinge wat positief bydra tot hoe gesond ek voel en hoe goed ek lyk, sal ek behou. Dis deel van wie ek is en hoe ek in my professie myself aanbied.

Dis die oomblikke van krities wees wat my vreugde en selfvertroue steel, wat ek van nader wil bekyk. Dit tref my soms dat as ek so krities en veroordelend op myself is, hoe kan ek dan met eerlikheid sê dat ek my naaste lief het soos myself?

Kyk ek ook so krities na ander mense? Is ek oor hulle ook so veroordelend? (Dis retoriese vrae hierdie – ons moet elkeen hierdie vrae vir onsself antwoord waar net die Here dit kan hoor.)

Elkeen moet soek na hul eie uiterlike vrede en vreugde

Die refleksie in my spieël is bedoel om my waardering vir my gesondheid en liggaamlike gawes te gee. Die bonusse van aantreklikheid, styl en goeie versorging behoort as voorregte uit die Skepper se hand bo-aan ons elkeen se dankbaarheidslysies te staan.

Maar heel moontlik is daar eerder lysies in ons gedagtes met rigiede voorskrifte. Onrealistiese reëls en vereistes waarby ons ingekoop het oor ouderdom, haarkleur, klere groottes, spiere en soepelheid, vlekkeloosheid en nog baie meer.

Sosiale media het die reeds bestaande voorskrifte van die samelewing waarmee ons onsself kasty, dieper by ons ingedril. Variasie, verskille, veroudering, verstandige keuses ... Dis deesdae woorde wat taboe is, want almal moet dieselfde lyk, nooit ouer word nie en so hard as moontlik veg teen waarmee jy gebore is.

Mag die algoritme van God jou eendag eerder by ’n plek bring waar jy jou refleksie in die spieël lief het  – met dieselfde deernisvolle kennis van jou uiterlike sterk- en swakpunte soos jou innerlike swak- en sterkpunte. Mag jy waardering vir jou eie en ander mense se vorms en voorkoms kry.

Mag jy as Geesvervulde, volkleur persoon met vrede en vreugde tuiskom in jou eie, Godgegewe, unieke liggaam. Dit is mos die voertuig waarmee jy deur die lewe reis wat Hy vir jou gegee het.

BECOME A PREMIUM MEMBER 

Our premium membership includes all of Lynette's latest content. 

Let's do it!