Te veel van ’n g(r)oeie ding
Apr 08, 2026
Die meeste van ons dink dat sukses die gevolg van ’n groeiproses is en dat jy dan as mens so wie so sal oorleef. Dat as jy verander, aanpas en verbeter, dít ’n suksesvolle, welvarende, lang en gelukkige lewe waarborg.
Die waarheid is dat oorlewing nie altyd die resultaat van groei is nie. Die waarheid is ook dat groei jou oorlewing in gevaar kan stel en dat jou oorlewing jou transformasie soms moet stuit.
Voorbeelde om hierdie komplekse saak te verduidelik
- Selle wat leef en sterf, vervang hulself en hou die liggaam aan die gang. As hulle egter onophoudelik groei en vermeerder, word hulle later kankerselle wat organe vernietig en dodelik vir die liggaam kan wees.
- Een van die dierspesies wat die beste oorlewingsrekord het, is krokodille. Hulle is al vir meer as 200 miljoen jaar op aarde, maar in hierdie ellelange tydperk het hulle nie verander nie. Hulle is nie slimmer of beter aangepas nie. Hulle vermeerder nie juis in getalle nie, maar oorleef heeltemal piekfyn. En dit doen hulle sonder transformasie of groei in omgewings wat wel verander het.
- Besighede wat jaarliks slegs groei en winsgewend is, sluit vinniger hulle deure as bedrywe wat nie só suksesvol is nie. Op die S&P500 (Standard & Poor's 500 Index) word die prestasies van die 500 grootste maatskappye in die VSA gemeet. Volgens hulle statistieke is die gemiddelde bestaanstyd van een van hierdie buitengewoon suksesvolle maatskappye slegs 18 jaar.
- Besighede wat lank oorleef, byvoorbeeld 30, 50 of 100 jaar, haal nie die S&P500-indeks nie. Hulle word effens kleiner of groter soos wat tye verander, maar groei nie so skitterend soos die supersterre nie. Hulle bly relatief staties en behou die grootte en winsgewendheid wat vir hulle werk ter wille van langlewendheid.
Wat is die lewensles wat ons hieruit leer?
Groei is noodsaaklik, maar jy moet wrintiewaar ook weet wanneer is genoeg genoeg en dan vir ’n rukkie net oorleef. Dis soos om jou fiets verskriklik hard te trap en lekker vinnig te ry. As jy tevrede is met jou spoed, haal jy jou voete van die pedale af en “cruise” vir ’n rukkie onbelemmerd.
As jy dit nie sou doen nie, gaan die fiets se spoed so hoog raak, dat jy dit nie meer kan beheer nie. As jy dan sou val weens ’n klippie in die pad of ’n slaggat, is die kanse goed dat jy noodlottige beserings oploop en die fiets afgeskryf word.
Soos wat ’n mens groei, moet jy voortdurend verander. As jy nie aanhou verander nie, kan jy mos nie slimmer, sterker, gesonder, gelukkiger, welvarender en so meer word nie. Jy moet onophoudelik eksperimenteer en nuwe gedrag aanleer, sodat jy nie iewers stagneer nie.
Maar iewers word hierdie drif tot transformasie soos wat jy die wonderlike ideaal van voortdurende groei najaag, onnatuurlik en gedwonge. Jy durf groter en groter risiko’s aan totdat jy op ’n dag net een stappie te ver gaan. En dan groei jy (of jou besigheid) letterlik tot jy uit jou nate bars.
Om al hierdie groei in stand te hou, het jy ook meerdere hulpbronne nodig. Op jou gewone fiets kan jy lekker en ver ry met ’n piesang in jou sak. Die hoër spoed wat jy so ten alle koste wil bereik, vereis egter spesiale proteïendrankies, ingevoerde ratte en ’n afrigter wie se tarief per uur hoër as die goudprys per fynons is.
In jou persoonlike groei werk dit soos met die fietsvoorbeeld. Iewers word jou mentors moeg of jou geld is op, die biblioteek se boeke op gelees en jou gesin se geduld met jou afwesigheid heeltemal klaar. Jy wil jouself nóg verbeter, maar jy loop jou in ’n muur vas.
Dis soos die ruspe in die bekende kinderboekie wat homself knuppeldik geëet het en nou is dit genoeg. Nou is dit tyd om op te hou inneem en tyd vir uitsette. Genoeg gegroei, gaan maak nou ’n verskil! Genoeg ontvang, dis tyd om terug te gee!
Wat is die geestelike les wat ons hieruit vir ons geloof leer?
Oorlewing – om te midde van uitdagings in ’n stukkende wêreld aan te hou lééf – gebeur nie outomaties en onbewus terwyl jy besig is om vasberade jou groeiproses na te jaag nie. Jy moet dit doelbewus kies en daarop fokus terwyl jy vir ’n ruk “stilstaan” in jou ontwikkeling.
In Johannes 15 (2020-vertaling) se eerste twee verse staan woorde van Jesus opgeteken wat na só ’n tydperk in mense se lewens verwys:
“Ek is die egte druiwestok en my Vader is die landbouer.
Elke loot aan My wat nie vrug dra nie, sny Hy weg;
maar elkeen wat vrug dra,
snoei Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra.”
Snoeiwerk is nie lekker werk nie. ’n Vriendin met roosbome vertel my dat sy dit onmoontlik vind om die knoppe aan haar geliefde boompies uit te dun sodat die oorblywendes beter, mooier en groter kan blom. So ook kry sy dit nie oor haar hart om seker te maak haar granaatboom het net een vruggie per tak nie.
Daarom is dit deel van God se genade dat tye van teenspoed ook goed vir ons kan wees. Verandering buite ons beheer wat ons ontwrig en verliese wat ons groei kniehalter, kan ook vrug dra.
Ja, álles is genade, al voel iets nie goed nie, al is dit nie vir ons maklik of lekker nie. Dit voel soos ’n hindernis en dat ons besig is om weg te kwyn. Ons belewenis is dat ons ’n gebrek aan groei het en dit nie sal oorleef nie.
Tog is die teenoorgestelde juis waar. Dit is vir ons onbegryplik, maar ons kan kies om sulke seisoene te sien as ’n tydperk van herbesinning.
Dit gee ons kans vir hernieude besluite en hersiene doelwitte om verskil te gaan maak in die Koninkryk op maniere wat oorleef en standhoudend is. Ons kan selfs ewige verskil maak nadat ons gesnoei is.
BECOME A PREMIUM MEMBER
Our premium membership includes all of Lynette's latest content.