Lynette's Blog

Post

Uitstel en afstel? Ek? Nooit gesien nie!

Mar 11, 2026

Op YouTube en LinkedIn wemel dit van slimjanne en beterweterige tannies wat mense met “procrastination” help. Tydskrifte en aanlyn deskundiges bied wavragte artikels aan oor hierdie probleem wat mense in hul doelwitte - veral by die werk - pootjie.

 

Ek weet nie of daar nog sielkundiges, base, bestuurders en ouers is wat waarskuwings rig met die ou uitdrukking “van uitstel kom afstel” nie. Dié gesegde is geyk, maar die waarheid oor die probleem met uitstel daaragter is eietyds en hier om te bly.

 

Ons kry dit maar net nie uit ons menslike gestelle nie, lyk dit my. Dalk is dít juis deel van die probleem: Omdat dit tipies menslik is, speel jou ingebore temperament vir seker ’n rol hierin.

 

Soos dit na meer of mindere mate deel van jou swakpunte is, gaan die oplossing dan ook jou unieke geaardheid in ag moet neem. Kortom: Daar is nie ’n kitsresep of tien maklike stappe om uitstel te oorkom wat vir alle mense ewe goed werk nie.

 

Jy sal jou skakering moet ken en ’n meer gefokusde aanpak moet hê. Maar voordat jy nou hier  ophou lees omdat jy dink dat jy nie ’n probleem het met uitstel nie, neem asseblief kennis van die volgende paragraaf.

 

ALLE mense struikel soms weens uitstel. Ja, selfs die dinamiese, entoesiastiese Geles en die doelgerigte, effektiewe Rooies.

 

Hoekom val Gewilde Geel vir uitstel?

Om ’n Geel mens te wees, beteken dat jy ’n geweldige gawe het om met die wêreld te deel: Geles maak alles bietjie helderder en almal ’n bietjie vroliker. Maar die borrelende stroom energie in hulle maak hul volstoom lewe vir hulself vermoeiend.

 

Mense neem nie in ag dat Geel soos alle mense soms “af” voel nie en deel net werk uit. Soms sê Geel “ja” voor hulle gedink het en hulle is ook nie so vaardig met beplanning nie. Hulle voel ’n negatiewe atmosfeer aan en is instemmend om dinge beter te maak.

 

Opeens is daar allerhande keerdatums wat vir Geel soos verrassingsaanvalle voel. Hulle het ingestem tot ’n klompie dinge, maar het nie voldoende energie, tyd of vermoëns nie. Hulle wou mense gelukkig hou, maar nou is daar moeilikheid.

 

Met hulle entoesiastiese die-glas-is-mos-altyd-vol-ingesteldheid en hope selfvertroue, onderskat Geel die kompleksiteit van pligte of verantwoordelikhede. Hulle word oorweldig en word so angstig dat hulle pens-en-pootjies in die gat van uitstel val.

 

Geel doen uitstel dan met dieselfde oorgawe as wat hulle al hul ander dinge doen. Iets word nie net vir ’n kort rukkie aangeskuif nie, maar regtig nagelaat. Dit veroorsaak dat die persoon ongewoon gestres, verward en gejaagd voel.

 

Dit word later ’n bose kringloop van skuldgevoelens, probeer om iets te doen, nog meer wanorde en nog minder effektiwiteit. Natuurlik voel Geel skuldig hieroor! Hulle dra swaar aan die wete dat hulle mense in die steek gelaat het.

 

Uitstel wat afstel geword het, steel hulle gawe van blydskap. Hulle voel so ontuis in hul eie vel dat hulle al hul aanvanklike entoesiasme vir ’n saak verloor en nog minder by die dóén-werk uitkom.

 

Hoe Geel uit die gat van uitstel kan klim

  • Wees eerlik oor jou menslikheid en vergewe jouself onmiddellik.
  • Wees veral eerlik oor jou afhanklikheid van goed voel, pret en plesier, wat ook dopamienverslawing genoem word.
  • Sluit vrede en word vriende met verveling, ernstige sake, roetine, plig voor plesier, lysies, stelsels en sisteme.
  • Maak jou werkspasie netjies en geordend, kry ’n dagbeplanner wat jy maklik kan invul en wat jy gereeld raadpleeg en wat luidkeelse alarms laat afgaan!
  • Verminder afleidings soos sosiale media daadwerklik en doen moeite om jou vermoë om op een ding op ’n keer te fokus, te oefen soos wat ’n mens ’n spier oefen.
  • Sê vir jouself: “My dopamien-detoks is die pad na sukses wat my gelukkig gaan maak!”.
  • Vra ’n vriend, kollega of berader om jou mentor of vennoot hierin te wees sodat jy as sosiale vlinder nie alles alleen doen nie en aanmoediging, advies en/of vriendelike vermaning by iemand kry na wie jy opkyk en van hou.
  • Maak seker dat jy jou suksesse behoorlik vier saam met almal wat jou bygestaan het en saam met jou gewerk het.
  • Fokus op tydsbestuur as ’n ritme wat vir jou en jou temperament werk – jy hoef nie ’n robot of masjien te word nie.

 

Hoekom glo Rasende Rooi hulle mag of moet dinge uitstel?

Mense met ’n hoë dosis Rooi sal heel moontlik met groot oortuiging deur die lewe gaan dat hulle nooit ’n taak of plig uitstel nie. Die dinge wat hulle nalaat om te doen, is “tydmors” of “twak”, beslis nie iets wat afgestel is weens uitstel nie.

 

Hulle het ’n intense behoefte om alles te beheer en alles te laat gebeur op slegs hulle manier. Opdragte of verantwoordelikhede waarin ander mense ook ’n aandeel het, of wat gedoen moet word volgens iemand anders se voorskrifte, maak Rooi huiwerig om daarmee te begin.

 

Dis gewoon “uitstel”, maar vir Rooi voel dit geregverdig. Hulle glo wat hulle doen (of liewer, nié doen nie), is heeltemal anders as die ander uitstellers wat ongeorganiseerd is, lui is of hul plig versuim.

 

Rooi is ook so sterk taakgefokus dat hulle sloertake wat nie vinnig resultate lewer nie, opsy skuif. Dis weereens doodgewone “uitstel”, maar voel vir hulle soos die korrekte reaksie. Hulle is mos besig met iets anders wat meer effektief of winsgewend in die oomblik is.

 

Rooi werk inderdaad met ’n dryfkrag wat ’n mens kan bewonder. Maar dikwels oorlaai die ywerige persoon sy of haar pligtestaat en is hulle later uitgebrand of naby daaraan. Dan moet hulle ter wille van oorlewing sekere sake uitstel.

 

Ander redes waarom Rooi soms dinge afstel nadat hulle dit vir ’n ruk uitgestel het, is hulle fokus op status en hul eie ambisieuse doelwitte. As iets nie bydra tot hulle sukses nie en “benede” hulle voel, sal hulle wag vir ’n beter opsie of dit delegeer.

 

Wat kan Rooi aan hul probleem met uitstel doen?

  • Wees eerlik oor jou menslikheid en vergewe jouself onmiddellik.
  • Wees veral eerlik hoe jy as die leier of bestuurder, wat jy waarskynlik is, alles wil beheer en krities op en veroordelend is oor medewerkers wat met uitstel sukkel.
  • Oefen jou empatie soos wat ’n mens ’n spier oefen en vermaan jouself om respek vir ander mense se redes vir uitstel te hê.
  • Herinner jouself aan die stelling: “Ander mense se manier van werk kan ook werk en hulle aandeel is ook waardevol”.
  • Hersien al jou take of pligte kragtens ’n groter doelwit en werk uit waar dit in die sogenaamde groot prent en uiteindelike gemeenskaplike doelwit pas.
  • Moenie jou eie beoordeling van iets as “nonsens” of “bedoel vir iemand anders” as die enigste waarheid aanvaar nie – wees bereid om van siening te verander.
  • Neem beheer deur take in kleiner dele op te deel en self te besluit watter van jou standaarde of metodes jy (tydelik) gaan aanpas.
  • Delegeer, maar maak seker dat jou kollegas, span of gesin verstaan waarmee jy besig is en hoe jou deel en hulle s’n tesame julle doelwit(te) gaan bereik.

BECOME A PREMIUM MEMBER 

Our premium membership includes all of Lynette's latest content. 

Let's do it!