Lynette's Blog

Post

Vat die groen monster vas sodat jy kan dankbaar wees

May 13, 2026

Dankbaarheid is ’n emosie. Dis ook baie meer as net ’n gevoel. Dis ’n gewoonte wat ’n mens kan aanleer en inoefen. Hoekom sal ’n mens dit doen?

Omdat dit jou gees en jou liggaam gesond hou! Verskillende navorsers uit velerlei wetenskappe het dit na behore ondersoek en bevestig: Die Bybelse opdrag waaraan gelowiges gehoorsaam is, word vir alle mense aanbeveel of jy nou glo of nie.

Neuroloë kan op skanderings aandui waar die menslike brein verander as ’n mens jou dankie-sê-“spiere” oefen. Die algemene bevindings is ook duidelik: Dankbaarheid is die oorsaak van ’n klomp positiewe gevolge. Nié andersom nie.

Ons is geneig om te dink: Eers as ek ’n klomp klinkklare redes het om dankbaar te wees, sal ek dié gevoel koester. Nee, dis wanneer jy doelbewus met jou brein gaan soek vir redes om ’n dankie-lysie op te stel, dat positiewe gevoelens in jou hart kom lê.

Maar nou weet ons mos ons lyste met klagtes is meters lank en dat ons klaaglik in ons dankbaarheid misluk. Dit voel so onnatuurlik en kunsmatig om redes vir dank te loop en bedink, terwyl negatiewe emosies hoog loop!

Die emosie wat mense keer om dankie te sê

Navorsers wat op dankbaarheid fokus, ondersoek met groot belangstelling mense se slegte gevoelens en met name jaloesie. Dit word gesien as die grootste struikelblok wat mense van dankbaarheid weerhou.

Jaloesie is kompleks. Die Bybel beaam dat jaloesie sonde is en deel is van die vrug van die vlees – in afskuwelike teenstelling tot die vrug van die Gees. Dit spruit uit vrees, onsekerheid, ’n gevoel van minderwaardigheid of juis jou idee dat jy meerderwaardig is.

Dit wel in jou op as jy voel ’n verhouding of besitting wat vir jou belangrik is, word deur iemand of iets bedreig. Ons sien dit as ’n “negatiewe” gewaarwording dat jy die aandag, liefde of sukses gaan verloor wat jy vir jouself begeer.

Eintlik is dit soos alle emosies ’n boodskapper dat daar ’n saak is wat jou aandag benodig. Die gevoel is normaal en maak van jou ’n mens. Dis wat jy daarmee dóén wat sondig, negatief of “onmenslik” kan wees.

In die Afrikaanse taal praat ons kleurryk oor hierdie “monster”: Geel van nyd wees. Groen van jaloesie wees. Die geel baadjie dra.

Hierdie idiomatiese taalgebruik het niks met my Vierkleurtemperamentmodel te doen nie. Tog is daar vir seker verskille in hóé en hoekom die verskillende kleure hierdie emosie beleef, en hoe hulle beheer daarvan kan neem.

Gewilde Geel en jaloesie

  • Hulle het baie selfvertroue, maar is ook sensitief, wil graag al die aandag hê en voel onveilig as ander in die kollig kom wat hulle vir hulleself toegeëien het.
  • Van hul grootste vrese sluit in dat hulle oor die hoof gesien sal word, uitgesluit sal word of dat mense van hulle sal vergeet.
  • Hulle wil graag belangrik en spesiaal voel en beny ander mense wat (ook) gewild, suksesvol of aantreklik is.
  • In ’n liefdesverhouding voel hulle vinnig deur iemand bedreig wat vir hulle soos kompetisie lyk, veral as dit lyk of hul geliefde meer tyd aan die persoon afstaan.
  • Hulle geniet die aandag van baie mense, maar projekteer hul eie gedrag op dié van hul geliefdes en word dan onnodig en sonder rede jaloers.
  • Omdat hulle hul emosies so intens beleef, kan hulle blitsig in ’n jaloerse drif ontplof, maar hulle kalmeer ewe vinnig en word weer maklik “normaal”.
  • Soms steek hulle hul naywer agter ekstra-sjarmante optrede weg.
  • Hul geliefdes, familie, vriende en kollegas moet bewus wees daarvan dat Geel meer bevestigings, aanmoediging en aanraking as die ander kleure nodig het as bewys daarvan dat hulle inderdaad geliefd of gewild is.
  • Geel hou van helder en duidelike kommunikasie sodat hulle weet waar hulle met iemand staan. Dit verhinder dat hulle onveilig, onseker en jaloers voel.
  • Geel se uitdaging is om die wortel van hul jaloesie te ondersoek voordat hulle op hol daarmee gaan.
  • Geel moet hul selfwaarde innerlik in Christus en in hul status as kind van die Here vind, in plaas van “die kollig”, besittings en uiterlike voorkoms.

Rasende Rooi en jaloesie

  • Hulle verwar dikwels liefde met beskerming, en beskerming met beheer.
  • As hulle dan beleef dat hulle beheer oor iemand of ’n situasie verloor, word hulle besitlik en jaloers.
  • As gebore leiers beleef hulle enige vorm van teenstand as ’n direkte uitdaging wat hul gesag en sukses bedreig.
  • Hulle onttrek nie as hulle jaloers voel nie en word meer uitdagend, dominerend en aggressief.
  • Hulle beleef amper alles in die lewe as ’n kompetisie wat hulle moet wen en as hulle voel dat hulle iets begin verloor, wel jaloesie in hulle op.
  • Hulle het groot behoefte aan erkenning en as iemand anders geprys word en die Rooi persoon se bydrae word oor die hoof gesien, word hulle angstig en voel bedreig.
  • Hul geliefdes, familie, vriende en kollegas moet verstaan dat Rooi van al die kleure die grootste behoefte daaraan het om voortdurend te voel dat hulle besig is om doelwitte te bereik en moet hulle daarom in gemeenskaplike, opbouende uitdagings betrek.
  • Rooi verafsku manipulasie en verkies eerlike en vinnige terugvoer sonder ’n lang omhaal van woorde, sodat konflik en die oorsaak van hul jaloesie uitgesorteer kan word.
  • Hulle is geneig om ander mense se grense te oortree, maar sal jou respekteer as jy jouself op ’n ferm manier laat geld.
  • Rooi se uitdaging is om aan hul nederigheid en respek vir ander se gevoelens te werk, sodat hulle nie so hard hoef te veg vir hul dominansie nie.
  • Rooi moet hul selfwaarde innerlik in Christus en in hul afhanklikheid van die Here vind, in plaas van wêreldse status en sukses.

Geruste Groen en jaloesie

  • Waar Geel se jaloesie in ’n uitbarsting sigbaar word en Rooi s’n in ’n aggressiewe aanval, wys Groen hulle s’n in koppigheid, onverskilligheid en subtiele vorms van passiewe aggressie, soos sarkasme of om iemand die koue skouer te gee.
  • Hulle hou hul naywer vir hulleself en prosesseer dit eerder in die privaatheid van hul binnekamer.
  • Hul diepgesetelde vrese en onsekerhede is die bron van hul jaloesie, maar hulle onttrek en bekommer hulleself inplaas daarvan om iets aan die saak te doen.
  • Dis baie moeilik om met Groen hieroor te kommunikeer, want as hulle bedreig of seergemaak voel, onttrek hulle in onverbiddelike hardkoppigheid.
  • Hul oorhoofse voorkeur om altyd konflik te vermy, lei ook daartoe dat hulle ’n front van kalmte en tevredenheid voorhou, terwyl hulle innerlik al hoe meer verwyte opbou.
  • Hul geliefdes, familie, vriende en kollegas moet verstaan dat Groen van al die kleure die meeste gerusgestel en “opgebou” moet word, en voortdurend daarvan verseker moet word dat jy hulle lief het of van hulle hou, sodat hulle veilig in die konneksie kan voel.
  • Groen hou van een-tot-een gesprekke sonder drama en emosionele uitbarstings en mense moet verstaan dat hul passiwiteit ’n verdedigingsmeganisme is en hulle nie daaroor bykomend verwyt nie.
  • Groen se uitdaging is om self aan hul selfvertroue, gesonde selfbeeld en selfgelding te werk en aan te leer hoe om konflik aan te spreek en op te los.
  • Groen moet hul selfwaarde in Christus en in hul diensbaarheid aan die Here vind, in plaas van die tipe konflikvermyding en passiwiteit wat vir hulle die gemaklikste voel.

Besliste Blou en jaloesie

  • Soos Groen, internaliseer Blou hul jaloesie, maar hulle broei baie langer en meer intens oor die saak en koppel dit aan verwyte, bitterheid en seerkry uit die verlede.
  • Hul ingebore vrese en lae selfbeeld maak dat hulle geneig is om besitlik op mense en materiële dinge te wees en hulle voel bedreig as hulle voel hulle bereik self nie hul hoë standaarde nie, terwyl iemand anders dit wel regkry.
  • Hul jaloesie kan in uiterste gevalle aanleiding gee tot wraak, maar word meestal sigbaar as onttrekking, passiewe aggressie of afbrekende kritiek.
  • Hul sensitiwiteit veroorsaak ook dat hulle bedreigings lank voor die tyd sien aankom of onnodig vrees en dan buitensporig daarop reageer.
  • Hul perfeksionisme laat hulle dikwels teleurgesteld en verraai voel omdat niemand daaraan kan voldoen nie.
  • Hul geliefdes, familie, vriende en kollegas moet verstaan dat Blou van al die kleure die meeste geneig is om oor sake te broei en aangemoedig moet word om hieroor te kommunikeer voordat hulle onttrek en in negatiewe denkpatrone vasval.
  • Blou hou van diep gesprekke en is bereid om selfondersoek te doen en aanpassings te maak as hulle veilig en aanvaar voel.
  • Blou se uitdaging is om hulle selfgesprekke en gedagtes meer positief en opbouend te maak, terwyl hulle ook hul perfeksionisme moet afskaal na “’n beste poging is goed genoeg”.
  • Blou moet hul selfwaarde innerlik in Christus en Sy liefde vind, in plaas van in ’n strewe na volmaaktheid, en daarmee saam hul pessimisme en selfkritiek met Sy hoop en vryspraak vervang.

BECOME A PREMIUM MEMBER 

Our premium membership includes all of Lynette's latest content. 

Let's do it!