Lynette's Blog

Post

Woorde wat wek en voorbeelde wat trek

Jun 26, 2026

Een aspek van die lewe van Koning Dawid in die Ou Testament bly my voortdurend by. Hy moes vyftien lang jare wag voordat hy op sy troon kon gaan sit.

Samuel het, omdat Saul misluk het, ’n ander koning gaan salf en ’n offer in Betlehem georganiseer. Isai en sy seuns het dit op sy uitnodiging bygewoon. Samuel het hulle deurgekyk en sewe keer sy kop geskud: “Nee, nie hierdie een nie.”

Die een wat toe wel gekies is, op grond van sy innerlike, was die een wat nie eers saamgebring is nie. Isai het sy jongste buite rekening gelaat.

Die seun wat ’n koning geword het

Dawid moes tussen die skape gehaal word. Die seremonie by sy aankoms het nie lank geduur nie. Samuel het ’n bietjie olie oor die jongman wat oor die hoof gesien is, se kop gegiet en dit was dit.

By die huis was hy steeds die junior, die een wat tuisgebly het terwyl die manne gaan veg het. Sy broers het hul toekomstige koning ’n irritasie op die slagveld gevind toe hy kos vir hulle bring. “Skoert, kêreltjie!”

Saul wat toe nog sy werk gedoen het, al het die Gees van die Here hom verlaat, het hom amusant gevind en sy wapenrusting vir hom geleen. Toe het die poppe begin dans ... en later ook die vroue in Jerusalem.

Dawid trou met Saul se dogter, maar word ’n bedreiging en Saul stuur hom weg. Later word die argwaan van Saul so groot dat hy willens en wetens Dawid se dood probeer bewerkstellig.

Dis ’n verhaal van verraad, intrige en gekonkel. Dawid tree deurlopend soos ’n man na God se hart op. (Een keer moes Abigajil hom op die regte pad help hou.)

Ná Saul se dood vloei baie bloed totdat Dawid uiteindelik in Hebron weer gesalf is. En toe heers hy met soveel sukses dat sy koningskap in drie gelowe, Judaïsme, Christendom en Islam, as die roemrykste ooit beskou word.

Soms wonder ek of dinge anders sou gewees het as Dawid nie deur die leerskool van die lewe gegaan het ná die eerste salwing nie. Hy het vyftien jaar lank mos geweet hy is besig om sy beurt af te wag en homself voor te berei.

Sou ’n koning wat van kindsbeen af as leier erken en aangemoedig is, sulke hoogtes bereik het? Sou ’n kroonprins wat van sy geboorte af gehoor het hoe adellik sy bloed is en nooit verwerping, verraad en verguising beleef het nie, ook so getriomfeer het?

Die seun wat ’n aktuaris geword het

Ek weet wel dat Dawid se leerskool deur die inspraak van die profeet geaktiveer is. Daarsonder sou hy nooit die belewenisse, mense en uitdagings wat oor sy pad gekom het, geïnterpreteer het as lesse onderweg na die troon toe nie.

Dat hy hiervan bewus was, weet ons uit Abigajil se waarskuwings oor hoe ’n amper-koning ekstra korrek moet optree. Sy was nie die enigste persoon wat ná Samuel in sy lewe ingepraat het nie.

Daar was ook Jonatan, Agimelek, Joab, Abisai en ander waarvan jy in 1 Samuel 19 en verder kan lees. Dit herinner my aan die verhaal wat ’n eertydse onderwyseres my vertel het.

Sy het in ’n skool uitgehelp en vir Graad 6’e Engels gegee. Baie jare later het sy ’n dosent geword in Ekonomie en ná een van haar klasse vir nagraadse studente het een na haar toe gekom.

“Onthou jy my?” het hy gevra. Sy kon hom nie onthou nie, maar hy het haar nooit vergeet nie, het die jong man gesê. Hy was toe ’n suksesvolle aktuaris, maar hy het haar spesifiek onthou uit ’n tydperk in sy lewe toe hy gedurig misluk het.

Hy kon nie stilsit in die klas nie, letters en woorde het hom hoofpyn gegee en sy punte was vrot. Erger nog, al sy onderwysers het hom voortdurend vertel hoe lastig, steurend en hopeloos hy is. Totdat die instaan-juffrou gekom het om Engels te gee.

Sy het vir hom vertel hy herinner haar aan haar eie seuntjie wat baie slim is, maar sukkel om te konsentreer. Sy het vir hom ekstra tyd gegee om sy werk te doen en sy het raakgesien hy is goed met syfers en hom hierin aangemoedig.

Sy het hom gevra om sy hand op te steek as hy voel sy kop word seer of sy lyf wil nie meer sit nie. Dan het sy vir hom geknik en mag hy om die rugbyveld gaan draf het – kaalvoet soos hy verkies het. Die klas was naby genoeg dat sy hom deur ’n venster kon dophou.

Die tydjie buite het hom gekalmeer en dan het hy weer kans gesien vir die werk. Ander kere het die juffrou hom gevra om die bord skoon te vee of ’n boodskap vir iemand te vat. Sy het hom vertel hoe betroubaar hy is en dat hy goed is met die raaksien van detail.

Al was die juffrou net een kwartaal by die skool, het die seun haar komplimente en haar raad nooit vergeet nie. Hy het gaandeweg geleer om homself te leer en self gesorg dat hy baie buite kom en beweeg sodat hy in die klas beter kon fokus.

Die ander onderwysers het minder met hom geraas en ’n paar het soos die instaan-juffrou hom met takies vertrou. Skool toe gaan het nie meer soos straf gevoel nie.  Sy punte het sodanig verbeter dat hy ná matriek toelating gekry het tot aktuariële studies.

Hy het dit alles vir die dosent vertel, haar hand geskud en gesê: “Elke keer as ek om ’n gebou gaan stap as my lyf nie meer kan stilsit nie, dink ek aan jou. Baie dankie!”

In wie se lewe kan jy inpraat sodat hulle in hulself en hul toekomsdroom kan glo?

BECOME A PREMIUM MEMBER 

Our premium membership includes all of Lynette's latest content. 

Let's do it!